Die Grootste GeskenkVoorbeeld
Week 3: Die Gawe van Hoop
Hoop in God se Liefde
Lees: Romeine 5:1–11
SOAP: Romeine 5:3–5
Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
Oordenking
Hierdie Adventweek gaan ons tyd daaraan bestee om te fokus op God se gawe van hoop, en watter pragtige gawe is dit nie! Die hoop wat ons het hang nie af van ons omstandighede, sukses, wat ons besit, of wat ons kan bereik nie. Ons hoop het niks te doen met die titels wat ons besit, die werk wat ons doen, hoe dikwels ons vrywilligerwerk doen, of hoe goed ons kinders gemanierd is nie. Ons hoop is in God — en dis ‘n hoop wat nooit verander of beskaam nie!
In teenstelling met die wêreldse weergawe van hoop wat verwag dat alles maklik sal wees, is ons hoop die sterkste wanneer dit voortspruit uit die ontwikkeling van ons karakter deur uitdagings. As ons weet dat die eindresultaat van ons swaarkry hoop is en ‘n lewe wat meer soos Christus s’n is, kan ons met ons oë op God gevestig en ons koppe omhoog, enigiets trotseer waarvoor ons te staan kom.
Deur swaarkry word volharding gekweek, wat ons gee wat ons nodig het om in ons geloof voort te gaan terwyl ons leer om te rus, nie om te stop nie. Namate ons ons volharding ontwikkel, word ons karakter gesuiwer, en dit onderskei ons van diegene wat in moeilike tye opgee of ingee. Ons aanvaar die leefstyl van God se koninkryk wat, teen die kultuur in, sê dat as ons swak is, dan is God sterk. Ons nooi ander in ons lewens in om ons te help om hierdie wedloop goed te hardloop, en ons is lief vir en juig diegene toe wat die wêreld as ons mededingers sou beskou.
En uiteindelik, na volharding en karakter, bring ons swaarkry hoop voort. Hoop wat nie oor ons gaan nie, maar oorloop uit die oorvloed liefde wat God in ons harte uitgestort het. As ons wêrelde geskud word, staan hierdie hoop vas, want God se liefde verander nooit nie.
Gebed
God, U is my hoop. Wanneer die lewe moeilik is, help my om te fokus op die gawes wat U vir my het terwyl my karakter gesuiwer word om meer soos Christus te wees. Die hoop wat ek in U het is onwankelbaar want u liefde vir my verander nooit nie. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie ses weke lange Bybelstudie is daarop gemik om ons harte voor te berei om die grootste van alle geskenke te vier: Jesus Christus. Hierdie studie fokus op die karakter van God en wat dit beteken om ‘n lewe van dankbaarheid te lei. Namate ons die Adventstyd binnegaan, sal ons ‘n paar van die gawes wat God in Jesus vir ons gegee het, bestudeer, naamlik: hoop, geloof, vreugde en vrede.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/