Ten volle Toegewyd: SkeppingVoorbeeld
God Het Alles Geskep
Voordat daar ruimte, tyd, materie, molekules of mense was, was God daar.
"In die begin het God die hemel en die aarde geskep" Genesis 1:1.
Die eerste ding wat ons oor God leer, is dat Hy geskep het. Om te sê dat God die hemel en die aarde geskep het, is die antieke Hebreeuse manier om te sê dat God alles gemaak het. Bietjie vir bietjie, een woord op 'n slag, stel die skrywer van Genesis ons voor aan God en help ons om te ontdek hoe Hy is. Hy het bestaan voordat daar iets was, en Hy het alles geskep.
Wat die Bybelse skeppingsverhaal onderskei van ander antieke skeppingsverhale is dat, omdat God die heelal geskep het, Hyself nie deel van die heelal is nie. Ander antieke skeppingsverhale is geneig om die gode as deel van die skepping uit te beeld, maar die Bybel stel ons bekend aan die God wat méér as sy skepping is — heilig en afgesonder.
Die God wat aan ons bekendgestel word, bestaan vir ewig buite die grense van ruimte, tyd en materie. Daarom is die vraag: "As God alles geskep het, wie het God dan geskep?" Dit is eintlik 'n verkeerde begrip van wie die God is wat in die Bybel geopenbaar word. Die God van die Bybel is 'n ongeskape, ewige wese wat buite die heelal bestaan.
"In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef" Genesis 1:1-2.
Vervolgens leer ons dat die God van die Bybel 'n God van orde is. As Genesis die aarde as heeltemal onbewoonbaar beskryf, beskryf dit 'n wêreld sonder orde. Dit is wat onbewoonbaar beteken — wanordelik en chaoties. Die God wat alles uit niks geskep het, het egter orde uit die chaos gebring. Dit beteken dat niks wat God skep toevallig is nie — dit is alles volgens beplanning.
Dus, wanneer dit voel of die wêreld buite beheer is, kan ons hoop vind in die feit dat ons Skepper steeds in beheer is, en Hy bring orde uit chaos. Dit sluit jou in. Jy is nie 'n toevallige produk nie, maar die gevolg van Goddelike bepaling.
Hoe meer ons oor die aard van die heelal ontdek, hoe meer verstaan ons hoe fyn alles bepaal is, en hoe presies die nodige toestande daargestel is vir lewe om te bestaan. Soveel so, dat baie mense die ontwerp van die heelal sien as een van die sterkste bewyse vir die bestaan van 'n ontwerper-God.
"Toe het God gesê: ..." Genesis 1:3.
Die res van hierdie hoofstuk lei ons deur die proses van God wat sy skepping vorm en vul. Dit is deur die krag van sy woorde as 'n liefdesdaad wat God skep — nie deur oorwinning en geweld nie. Aan die einde van al hierdie skeppingsdade kyk God na alles wat Hy geskep het en noem dit "baie goed".
Wie is God dan? Volgens die eerste bladsy van die Bybel is God die Skepper van alles.
Joernaalvrae
- Skryf een van vandag se verse in jou joernaal neer. Hoe verander jou siening van God deur God se bekendstelling van Homself as Skepper?
- Hoe sien jy jouself in die wete dat jy die gevolg van Goddelike bedoeling is?
- Wat beteken "baie goed" vir jou? Wat het dit vir God beteken?
Memoriseervers
"God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep" Genesis1:27.
Aangaande hierdie leesplan
Wou jy al ooit in jou verhouding met God groei, die Bybel beter verstaan en leer hoe om Jesus vandag in ons wêreld getrou te volg? Met die Bybelse verhaal as ons gids, kom ontdek saam met ons waarhede en ontwikkel vaardighede wat ons sal help om ten volle toegewyde volgelinge van Christus te word. Hierdie leesplan is deel 2 van die 9-dele Volledig Toegewyde Reis.
More