In Jesus Is Jy...Voorbeeld

In Jesus Is Jy...

DAG 10 VAN 29

In Jesus is Ek Gered

Lees: Johannes 3:16–17, Kolossense 1:11–14, Hebreërs 2:14–15

SOAP: Kolossense 1:13

“Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.”


Oordenking

Moes jy al ooit gered word? Miskien het jy al gestrand langs die pad gesit toe jou motor ‘n pap wiel gekry het, of was jy ‘n ruk lank vasgekeer in ‘n hysbak toe die krag afgegaan het. Dit kan vreesaanjaend wees om vasgekeer en onseker te voel oor wanneer hulp gaan opdaag, hoe lank jy sal moet wag of hoeveel dit gaan kos.  

In Jesus is ons gered. Nie van pap wiele of kragonderbrekings nie, maar van ons sielsvyand en ‘n ewigheid in die hel, van God geskei as gevolg van ons sonde. Ons is nie net gered nie, ons is volkome verlos, en oorgebring van waar ons was na ‘n nuwe, veilige tuiste in die koninkryk van God, sonder enige rekening om te vereffen. Ons is volkome verlos, ten volle betaal.

Ons identiteit in Christus berus op wat God vir ons gedoen het, nie wat ons vir onsself of iemand anders gedoen het nie. Die manier hoe ons optree, mekaar behandel, die woorde wat ons sê en die motiewe van ons hart is ‘n weerspieëling van wie ons in Christus is. As mense wat gered is, het ons nou oë om te sien waar hulp nodig is sodat ons as die hande en voete van Jesus, diegene om ons kan dien.

Hoe meer ons te wete kom wie God is, hoe beter verstaan ons wie ons is. En hoe meer ons verstaan en uitleef wie ons as kinders van God is, hoe meer sal ons die lewens van dié om ons beïnvloed sodat ander na die koninkryk van God aangetrek word. Die wêreld se definisie van identiteit plaas die fokus terug op ons, terwyl ons begrip van ons identiteit in Christus ons fokus vertikaal - terug na God - verplaas, en horisontaal om ander te dien.  

Waarvoor jy ook al vandag te staan kom, of waar jy ook al ‘n behoefte het dat God moet intree en jou red, Hy is getrou. Hy sal jou uitred.  


Gebed

Vader God, my hart is oorstelp oor die omvang van die redding wat U my bied. Dankie dat U my uit die duisternis oorgebring het in die heerlike lig van die ewigheid saam met U. Help my om wat ek leer oor wie ek in U is, te gebruik om diegene om my te dien.









Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

In Jesus Is Jy...

Wie is ek? Waarom is ek hier? Maak ek saak? As ons nie weet wat ons identiteit is nie, kan ons nie leef soos ons bestem is om te leef nie. Ons kan probeer om ons identiteit deur ons gesin, loopbaan, vriende, stokperdjies of nasionaliteit te definieer. In hierdie studie gaan ons fokus op die waarheid wie ons in Christus is en daardeur ons ware identiteit verstaan.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://LoveGodGreatly.com