Ten volle Toegewyd: 'n InleidingVoorbeeld
Hoe Lees Ons Die Bybel?
Ons weet dat die Bybel nie soos enige ander boek is nie. As ons dit soos enige ander boek probeer lees, sal ons vinnig in die moeilikheid beland. Vandag gaan ons na 'n paar idees kyk wat ons kan help, want as dit verstandig gelees word, is daar niks meer kragtig en herskeppend as die Bybel nie. As dit egter onverstandig gelees word, kan die Bybel maklik 'n struikelblok vir geloof word, of selfs 'n bron van skaamte.
As studente van Jesus is dit baie belangrik om die Bybel deeglik te lees. Dit is hoekom dit nuttig kan wees om daaraan te dink om die Bybel te bestudeer in plaas daarvan om dit net te lees. Die Bybel is bedoel om gelees, herlees, verken, bepeins, oordink te word — herhaaldelik. Dan sal ons regtig begin om die diepte te verstaan van die wysheid wat daarin vervat is.
Hier is vier beginsels om jou te help om die Bybel deeglik te bestudeer:
1. Die Bybel is die Woord van God vir ons maar is nie oorspronklik vir ons geskryf nie.
Die Bybel is oorspronklik geskryf aan mense wat verskillende tale praat, in verskillende kulture gelewe het en op verskillende plekke en tydperke as wat ons vandag is. Daarom is een van die wyse dinge wat ons kan doen om die konteks te verstaan. Om die oorspronklike omgewing te verstaan, help ons om die wêreld vanuit 'n heel ander perspektief te beskou. Hier is 'n paar nuttige vrae: Wie het dit geskryf? Aan wie het hulle geskryf? Hoekom het hulle dit geskryf? Wat het gedurende daardie tydperk van die geskiedenis gebeur?
2. Die Bybel is bedoel om literêr, nie net letterlik, gelees te word nie.
Die Bybel bevat 'n wye verskeidenheid literêre genres — poësie, gelykenisse, geskiedenis, briewe, en meer. As ons poësie probeer lees op dieselfde manier as wat ons geskiedenis lees, sal ons die punt mis. Daarom is dit nuttig om te leer om die Bybel — volgens die literêre genre — en nie net letterlik te lees nie.
3. Die Bybel is bedoel om in logiese gedeeltes gelees te word en nie net stukkies van gedeeltes nie.
Een van die maklikste maniere om die Bybel verkeerd te lees, is om net 'n enkele vers op sy eie te lees. Wanneer dit geskei word van die konteks van die gedeelte, hoofstuk en boek, is dit maklik om die temas wat daardie vers vorm, te mis, en hoe die vers tot daardie temas bydra.
4. Die Bybel is geskryf om ons te verander, nie net om ons in te lig nie.
Alles in die Bybel wil ons help om die mense te word wat God liefhet net soos ons is, en om ander lief te hê op dieselfde manier as wat Jesus ons liefhet. Een van die kragtigste vrae wat jy jouself kan afvra terwyl jy 'n Skrifgedeelte lees, is dit: Hoe wil hierdie Skrifgedeelte my help om meer soos Jesus te word?
Joernaalvrae:
- Skryf die Skrifgedeelte neer wat die meeste vir jou in vandag se lesing uitgestaan het. Wat tref jou van daardie gedeelte? Hoekom dink jy is dit belangrik?
- Watter deel van die Bybel vind jy moeilik om te verstaan?
- Van die vier beginsels om die Bybel deegliker te lees, watter een help jou die meeste? Watter een dink jy sal die moeilikste wees om te implementeer?
Geheuevers
"Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is" Johannes 13:34-35.
Aangaande hierdie leesplan
Wil jy groei in jou verhouding met God, die Bybel beter verstaan en leer hoe jy vandag vir Jesus getrou in ons wêreld kan volg? Met die Bybelse verhaal as ons gids, kom ons ontdek waarhede en ontwikkel vaardighede wat ons sal help om ten volle toegewyde volgelinge van Christus te word. Hierdie leesplan is deel 1 in 'n reis van 9 dele.
More