Vreesloos In Die Geveg Voorbeeld

Fearless in Battle

DAG 6 VAN 7

In vandag se Skrifgedeelte lees ons hoe Elisa die bonatuurlike raaksien, terwyl sy dienskneg net die natuurlike sien. Elisa beoefen geloof terwyl sy dienskneg vreesbevange is. 

Geloof neem die karakter en beloftes van God in ag, terwyl vrees op die sigbare en natuurlike fokus.

Geloof is die bewys van dinge wat ons nie sien nie en die vaste vertroue op dinge wat ons hoop (Hebreërs 11: 1).

Vrees is gebaseer op die sigbare en die natuurlike. Dit handel oor die tasbare. Dit wil resultate sien. Vrees baseer homself op menslike vernuf en die opinie van kenners en spesialiste.

Toe ons hoor dat ons 13-jarige dogter kwaadaardige gewasse in haar skedel en buik het, was ons platgeslaan. Selfs die mediese gemeenskap in een van Indië se vooraanstaande hospitale het moed opgegee toe hulle sien hoe sy vir haar lewe veg as gevolg van die komplikasies wat ontstaan het na die operasie. Maar, God het ingetree. Hy het gewys Hy is getrou. 

Geloof is gebaseer op die karakter van God. Hy is die Een wat sterre en sterrestelsels met 'n asemteug in die lewe roep. Hy trek die grens vir die golwe van die oseaan. Hy maak 'n weg waar daar nie een is nie. Hy is die oorwinnaar oor die dood, die reiniger van sonde, die vervuller van beloftes, die een wat spesialiseer daarin om die onmoontlike moontlik te maak. Hy is die Getroue Een, Abba Vader, die Leeu van Juda. Hy is Jesua – en jy is sy oogappel.

Daar kom tye wanneer geloof jou tot aksie laat oorgaan, terwyl jy ander kere weer gevra word om gelowig te wag. 

Terwyl vrees ons inderhaas laat optree, toon geloof 'n stille vertroue in God — selfs gedurende oënskynlike vertragings. 

Die grootste toets vir geloof kom in tye wanneer dit voel of God die pouseerknoppie gedruk het. Ons het dit keer op keer ervaar tydens ons dogter, Jenita, se tyd in die hospitaal. Ons het in totaal 88 dae by die hospitaal deurgebring — daar moes ons maar baie kere net wag. Dit herinner my aan die vier dae wat ons gesit en wag het dat Jenita uit 'n koma moes wakker word, deur haar dop te hou vir enige tekens van beweging. Dit was slegs die genade van God wat ons deur daardie wagtydperk gehelp het. 

Onthou: Hy wat belowe het, is getrou. Klou vas aan Hom terwyl jy in die wagkamer van die lewe sit. 

As God dit gesê het, sal Hy dit doen.  

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Fearless in Battle

Is jy iemand wat gewoonlik ingee vir vrees? Of lewe jy konstant in geloof? In hierdie oordenking leer ons hoe om stappe in geloof te neem, sodat jy vir God die geleentheid bied om sy krag in jou skynbaar onmoontlike situasie te kom wys. Word geïnspireer deur 'n persoonlike getuienis van hoe dit is om vreesloos deur die skadu van die dood te loop. Leer om vreesloos te lewe.

More

Baie dankie aan Rajiv Chelladurai en LifeWay Publications India wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asb: https://lifeway.in/fearless/