Vreesloos In Die Geveg Voorbeeld
Geloof kan nie aktief wees waar daar vrees is nie.
Die dissipels se vrees, te midde van die storm, was groter as hul geloof. Gevolglik kon hulle nie hulle geloof uitoefen nie.
Jesus, daarenteen, was in dieselfde storm, in dieselfde boot, op dieselfde tyd saam met sy dissipels, maar het absoluut geen vrees geken nie.
'n Reaksie vanuit vrees is verbasend verskillend van 'n optrede uit geloof.
So dikwels is ons egter net soos die dissipels. Ons put ons kragte uit en gee onsself oor aan paniek. Boonop veroorsaak ons dat diegene óm ons ook toegee aan vrees. Ons voorspel verdoemenis oor onsself, net soos die dissipels.
In teenstelling daarmee, kyk na Jesus se reaksie. Hy was meer ontsteld oor die dissipels se gebrek aan geloof as oor die boot wat vol water word of oor die geweldige golwe en rasende winde. Hy staan op en bestraf die wind en die wind en die golwe gehoorsaam.
Ek is ook gefassineer deur die feit dat Jesus deur die storm kon slaap. Wou Hy dalk sy dissipels kans gee om hul geloof uit te oefen?
Voel dit vir jou of Jesus slaap terwyl jy 'n stormagtige situasie beleef? Het jy al daaraan gedink dat Hy dalk vir jou wag om jóú geloof uit te oefen?
Ek weet vir 'n feit dat ek al vir God kwaad was omdat Hy klaarblyklik stil was gedurende die hewigste storm in my lewe. Ons dogter, Jenita, moes vele operasies ondergaan om 'n letsel uit haar maag te verwyder. Na-chirurgiese komplikasies het daartoe gelei dat sy vir haar lewe moes veg in 'n intensiewe sorgeenheid; en ek het geswig voor die vrees. Toe praat God met my deur die Skrif: "Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word" (Jesus se woorde aan Jaïrus in Lukas 8: 50). Ek het vasgeklou aan daardie woorde en het op God se getrouheid aan ons staat gemaak.
Totdat ek en jy "nee" sê vir vrees, sal ons nie ons geloof kan uitoefen nie.
Aangaande hierdie leesplan
Is jy iemand wat gewoonlik ingee vir vrees? Of lewe jy konstant in geloof? In hierdie oordenking leer ons hoe om stappe in geloof te neem, sodat jy vir God die geleentheid bied om sy krag in jou skynbaar onmoontlike situasie te kom wys. Word geïnspireer deur 'n persoonlike getuienis van hoe dit is om vreesloos deur die skadu van die dood te loop. Leer om vreesloos te lewe.
More