Ons Daaglikse Reis: 'n 30-dae Stap Saam Met JesusVoorbeeld

Our Daily Journey: A 30-Day Walk With Jesus

DAG 10 VAN 30

Die Grootste Liefdesverhaal

In 2013 was John en Ann Betar die oudste bekendste Amerikaanse getroude paartjie, toe hulle hul 81ste huweliksherdenking gevier het. Hulle raad om gelukkig getroud te bly, sluit die volgende in: "Moenie 'n wrok koester nie. Vergewe mekaar. Leef dienooreenkomstig", is John se raad. Ann voeg die volgende by: "Dit is onvoorwaardelike liefde en begrip. Ons het dit gehad. Ons beskou dit as 'n seën."

Die begeerte in enige huwelik is om te weet dat jou wederhelfte se toegeneentheid net op jou gefokus is. Hooglied vang hierdie aktiewe toewyding vas deur die beskrywing van twee geliefdes wat hulself in mekaar verlustig en na mekaar verlang (1:15-16, 3:1-3). Hulle het lief en word liefgehê (2:16, 7:10) en is tevrede met, en word bevredig in mekaar se geselskap (2:16, 4:9-11, 7:10). Dit kan sekerlik een van die lewe se grootste vreugdes wees.

Die aardse liefde tussen man en vrou is egter 'n eggo van die passievolle liefde en innige soeke van Jesus na dié wat in Hom glo—sy bruid. Die kragtige en misleidende aantrekkingskrag van die sonde het 'n kloof oopgeskeur tussen God en die mens. Dit het ons toegeneentheid weggedraai van ons eerste liefde en die fokus verskuif na die tydelike dinge van hierdie wêreld—dit het na leegheid, dood en verwoesting gelei (Jesaja 59:2; Romeine 3:23).

Maar hierin is die grootste liefdesverhaal opgesluit: "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê" (Johannes 3:16). En, "God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (Romeine 5:8).

Al is dit mooi om die liefde tussen 'n man en vrou te sien wat dekades lank gedeel word, kan dit nie vergelyk met die wonderlike liefde wat God vir ewig aan ons bied nie. Dít is die grootste liefdesverhaal! —Ruth O'Reilly-Smith

MEER: Lees Romeine 5:1-2 en dink na hoe die gebroke verhouding tussen God en ons deur Jesus herstel is.

VOLGENDE: Wat is die kenmerk van 'n liefdevolle en mooi huwelik? Hoe is God se liefde vir ons selfs mooier?

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Our Daily Journey: A 30-Day Walk With Jesus

Elke reis het voorrade nodig. Op die lewensreis is sommige van die beste voorrade God se Woord en 'n bietjie aanmoediging van vriende. Hierdie leesplan, "Ons Daaglikse Reis," behels 30 dae se oordenkings deur betroubare outeurs, wie se insigte 'n inspraak in jou lewe sal hê. Elke kort oordenking bevat 'n verhaal met verskeie meegaande Skrifverwysings en 'n "Volgende" afdeling om jou te help om in diepte na te dink oor wat jy gelees het. Benut jou stiltetyd ten beste met hierdie waarhede en bemoedigings uit "Ons Daaglikse Reis".

More

Baie dankie aan Ons Daaglikse Brood Bedieninge wat hierdie leesplan voorsien het. Besoek http://ourdailyjourney.org vir meer inligting