Die Buitengewone Krag van Lofprysing: 'n 5-dag-leesplan Uit die PsalmsVoorbeeld
Deur God te Loof, Laat Jou Uiting Gee Aan Jou Frustrasies
Daar was 'n tydperk in my lewe wat dit baie donker gevoel het. Kanker het my heeltemal uitgeput. Ek het gedurende daardie tydperk gewonder: "Is dit opreg om God te loof wanneer ek so aaklig voel?" Ek bedoel, ek was regtig nie lus om op en af te spring en te skree: "Halleluja, ek het kanker!" nie. Terwyl ek die boek Psalms bestudeer het, het ek ontdek dat baie van die Psalms klaagliedere was. 'n Klaaggebed is 'n gebed wat gevul is met vrae, frustrasies en twyfel. Wat ek van die psalmdigters ontdek het, is dat hulle eerlik teenoor God was. Wanneer hulle gefrustreerd was, het hulle hul gevoelens uitbasuin. Dikwels was hulle aanbidding eintlik 'n geween (Psalm 42:4 AFR83). Ander kere het hulle al hulle woede teenoor die Here uitgestort. Byvoorbeeld, op 'n stadium in sy lewe was Dawid so gefrustreerd dat hy in Psalm 58:7 AFR83 gebid het: "Ruk hulle tande uit hulle monde uit, o God!" Ek onthou toe ek die eerste keer daardie woorde gelees het, het ek gewonder: “Mag ons so bid?”
God begeer egter jou eerlike aanbidding. As jy gefrustreerd, kwaad of net hartseer is, nooi Hy jou om daardie gevoelens na Hom toe te bring. Stort jou seer voor Hom uit. Volg daarna die voorbeeld van die psalmdigters. Verskuif jou fokus na lofprysing. God belowe om naby die gebrokenes van hart te wees en die wat verbrysel is te red (Psalm 34:19 AFR53). Prys en aanbid Hom vandag dat Hy sy beloftes nakom.
Sela – Stil raak en Nadenke: Voel jy dat jy heeltyd gelukkig moet wees om 'n “goeie Christen” te wees? Wanneer het God jou ontmoet toe jy midde-in rou was?
Lofgebed: Here Jesus, ek loof U dat U 'n man van smarte en baie vertroud met droefheid was toe U op hierdie aarde gewandel het (Jesaja 53:3 AFR53). Dankie dat U elke traan wat ek stort sien en dat U elke kwaai woord hoor wat ek prewel. Ek loof U dat U my nooi om oor al my gevoelens ten diepste eerlik teenoor U te wees. Terwyl ek my hartseer in aanbidding voor U uitstort, dank ek U dat U my gebroke hart genees. Ek loof U Here dat U my as 'n liefdevolle, deernisvolle Vader vertroos. Dankie dat U naby is wanneer ek huil. Ek aanbid U as die God van alle deernis!
Psalm 34:19 AFR53: "Die Here is naby die wat gebroke is van hart en verlos die wat verslae is van gees."
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Angs, vrees, eensaamheid en depressie het die afgelope paar jaar drasties toegeneem. Die Psalmdigters was geen vreemdelinge vir hierdie emosies nie. Hulle het egter geleer om die buitengewone krag van lofprysing te benut om dit te oorkom. Ontdek die geheim om deur hierdie oordenkings uit die Psalms kalm te raak.
More