Die Buitengewone Krag van Lofprysing: 'n 5-dag-leesplan Uit die PsalmsVoorbeeld
Om God te Prys Maak Ons Vrees Stil
Die jaar 2020 was vir baie 'n donker tyd. COVID-19 het die wêreld oorweldig. Baie het geliefdes, werk en huise verloor. Die lewe was vir ons donker terwyl ons na nuusberigte van rasse-ongeregtigheid, onluste, politieke polarisasie en massaskietery geluister het. Vrees en angs het grootliks toegeneem.
Dawid, die psalmdigter, het ook donker omstandighede beleef. Sy vyand was nie 'n wêreldwye pandemie nie, maar die heersende koning wat op hom jaloers was en baie kere probeer het om hom dood te maak. Toe Dawid vrees ervaar het, het hy sy hart voor God uitgestort en toe sy fokus verskuif om God eerder te loof. Ons sien hierdie patroon regdeur Dawid se lewe.
In jou en my lewe is vrees 'n natuurlike reaksie wanneer ons voel die lewe raak donker. Eerder as om ons vrees te ontken, nooi God ons om ons harte voor Hom uit te stort en dan ons fokus na aanbidding te verskuif. Terwyl ons God loof vir sy almagtige karakter, maak die Heilige Gees ons vrees stil en verhelder ons gedagtes om die teenwoordigheid van God meer volledig te begryp. Om God te prys, stel vars geloof vry wat twyfel vervang, hernude moed vervang vrees, en verstommende kalmte vervang angs. Die waarheid is, jy kan eenvoudig nie vir God loof sonder om te verander nie.
Sela — Stil raak en Nadenke: Deur die boek Psalms sien ons die woord "sela" wat beteken om stil te raak en na te dink. Staan dus 'n paar oomblikke af om stil te raak en na te dink. Wanneer dit voel of die lewe donker is, wat is dan jou instinktiewe manier om dit te hanteer?
Lofgebed: Here Jesus, ek loof U dat U my lig en my redding is. Ek loof U omdat U my nooi om al my vrees by u voete neer te lê wanneer ek bang is. Dankie dat die duisternis van my omstandighede nie die lig van u heerlike teenwoordigheid kan oorweldig nie. Ek aanbid U as die Lig wat in die duisternis skyn. Ek prys U, omdat U ook my veilige vesting is en dat ek voortdurend my toevlug na U toe kan neem. Selfs nou, in hierdie vreesaanjaende tyd, omring u teenwoordigheid my. Ek loof U vir die selfvertroue en moed wat by my opkom terwyl ek U in getrouheid aanbid. Here God, U alleen is al my lof waardig.
Psalm 27:1: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Angs, vrees, eensaamheid en depressie het die afgelope paar jaar drasties toegeneem. Die Psalmdigters was geen vreemdelinge vir hierdie emosies nie. Hulle het egter geleer om die buitengewone krag van lofprysing te benut om dit te oorkom. Ontdek die geheim om deur hierdie oordenkings uit die Psalms kalm te raak.
More