Te Veel Van ’n Goeie Ding …Voorbeeld

Te Veel Van ’n Goeie Ding …

DAG 3 VAN 5

Soete misleiding

Daar is deesdae versteekte suiker in omtrent alles wat ons eet. Terwyl dit ons lewens beslis meer smaak gee, doen dit niks vir ons gesondheid nie. Die gemiddelde mens eet tussen 100 en 200 gram suiker per dag – bewustelik of onbewustelik. Suiker skuil in onverwagte produkte, soos ontbytgraan, tamatiesous, jogurt en slaaisous. Dit word ook “versteek” agter name soos sukrose, dekstrose, fruktose, maltose, laktose en glukose – en in produkte wat voorgee om “natuurlik” te wees. 

God het suiker gemaak en soos alle goeie gawes is dit inherent goed. Maar net soos vriendskap, vermaak, seks of sport kan dit mismaak word tot ’n afgod as gevolg van ons natuurlike geneigheid tot sonde en selfsug. Een van die duiwel se oudste truuks is om ons te lok met dinge wat goed lyk, voel en proe … terwyl dit nie noodwendig goed is vir ons nie. Oordoen jy dalk iets wat inherent goed is – maar nie goed is vir jou nie? Bid sodat jy sal kan onderskeid tref en sal weet wanneer daar ’n “te” aan die soet in jou lewe is.


MAAR ALMAL DOEN DIT DAN …

Al die suiker wat ’n mens eet, word afgebreek tot glukose – wat onmiddellike energie vrystel – en fruktose – wat eers deur die lewer in glukose omgeskakel word. Wanneer jy meer suiker inneem as wat jy deur aktiwiteite kan verbrand, skakel jou lewer die oortollige glukose om na vet. Nie wat jy graag wil hoor nie, nè? Dis suiker wat vet maak – nie vette nie. Behalwe dat te veel suiker ’n mens goor laat voel, word ’n dieet wat te hoog is in suiker geassosieer met diabetes en inflammasie wat tot hartsiektes lei. Kies daarom eerder ’n appel as jou soettand jou pla!

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Te Veel Van ’n Goeie Ding …

Een van die duiwel se oudste truuks is om ons te lok met dinge wat goed lyk, voel en proe … terwyl dit nie noodwendig goed is vir ons nie. Oordoen jy dalk iets wat inherent goed is? Hierdie 5 oordenkings, saamgestel uit SOOS APPELS VAN GOUD deur Dr. Michael Mol en Dalene Reyburn, bied daaglikse pitkos uit God se Woord, asook heilsame brokkies oor liggaamlike welsyn.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  http://www.cumbooks.co.za