Wie is Jesus? Deel 2Voorbeeld
Dit is Persoonlik
In hoofstuk 7 het Jesus die bergrede afgesluit deur die wet en die profete (omtrent die hele Ou Testament) met een sin op te som:
“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” Matteus 7:12.
Jesus sê dat al die reëls wat die Israeliete opgelei is om te volg en al die boodskappe van God wat die profete gebring het, het probeer om hierdie een doel te bereik: om ons te leer om die soort mense te word wat ander kan liefhê op dieselfde manier as wat God ons liefhet.
Matteus merk op dat die skare verbaas was oor Jesus se onderrig, nie net as gevolg van wát Hy hulle geleer het nie, maar die manier waaróp Hy hulle geleer het. Hy het met gesag onderrig gegee, anders as enige van die ander skrifgeleerdes van sy tyd. Hoe kon Jesus met soveel gesag praat? Hoofstuk 8 wys ons duidelik: Gesag word gebore uit integriteit. Met ander woorde, Jesus het nie net praatjies gemaak as dit daarby kom om mense lief te hê nie, Hy was werklik lief vir hulle op betekenisvolle, onbaatsugtige maniere. Neem Jesus se interaksie met die melaatse as voorbeeld:
'n Melaatse man kom en kniel toe voor Hom en sê: "Here, as U wil, kan U my gesond maak." Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: "Ek wil. Word gesond!" En sy melaatsheid was onmiddellik weg Matteus 8:2-3.
Let op hoe Jesus die man aanraak voordat Hy iets vir hom sê. Jesus het geweet dat hierdie aanraking baie duideliker sou spreek as wat sy woorde ooit kon. Melaatses is as onrein beskou, en weens die hoogs aansteeklike aard van hulle toestand is hulle uit die samelewing verstoot. Afgesonder. Sonder menslike kontak. Klink dit bekend? Ons weet almal hoe kwarantyn op hierdie stadium voel en hoe geweldig betekenisvol daardie eerste drukkie was toe ons weer vrylik kon beweeg! Plaas jouself dus in hierdie man se skoene. Jesus kon die man sonder enige moeite van 'n afstand af genees het, en dit sou waarskynlik, sosiaal gesproke, vir Hom makliker gewees het. Daar was 'n ernstige stigma teen diegene wat hulle met 'n uitgeworpene geassosieer het. Jesus het egter gekies om nader te beweeg en hom werklik aan te raak, die man fisies te genees, maar hom ook verhoudingsgewys en emosioneel te herstel.
Jesus het dus, net nadat Hy vir ons gesê het om ander op dieselfde manier te behandel as wat ons behandel wil word, vir ons gewys hoe dit in aksie lyk. Dit is wat integriteit is: Wanneer jou woorde en dade ooreenstem. Jy verteenwoordig jouself nie op een manier maar tree op 'n ander manier op nie. Daarom kon Jesus met soveel gesag praat hoe om mense lief te hê, want dit is presies wat ons God doen. Hy het nie sy liefde uit die hemel uitbasuin nie, Hy het dit persoonlik gewys. Jesus is Immanuel, God by ons.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wie is Jesus? Dit is die fundamentele vraag. Want as Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is, verander dit alles. As Jesus egter nie is wie Hy gesê het Hy is nie, verander dit ook alles. Sluit by ons aan in deel twee van ons reis deur die evangelie van Matteus om voort te gaan om die antwoord op hierdie belangrike vraag te ontdek.
More