IntegriteitVoorbeeld

Integriteit

DAG 9 VAN 10

Integriteit in die Bybel – Nuwe Testament: Johannes die Doper

Johannes, die ongekunstelde prediker en wegbereider van die Messias, verdien spesiale vermelding. Sy lewensfokus was om die aandag op Jesus te laat val: “Hy moet in belangrikheid toeneem en ek moet afneem” (Joh. 3:30). Weliswaar het hy op ’n stadium toe hy in die tronk was (en kort daarna deur Herodes onthoof is), gewonder of Jesus die beloofde Messias is. Aan die ander kant het Jesus van hom gesê: “Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie” (Luk. 7:28).

Persoonlik dink ek dat die grootste stelling oor Johannes die Doper deur Johannes die apostel en skrywer van die vierde Evangelie gemaak is: “Baie mense het na Jesus toe gekom en gesê: ‘Johannes het geen wonderteken gedoen nie, maar al die dinge wat Johannes oor hierdie man gesê het, was die waarheid’” (Joh. 10:41). Dis wonderlik as dít oor ’n man of vrou van God gesê kan word. 

Dink daaraan: Terwyl geen wonderdade, genesings, of wat ook al aan Johannes toegedig kon word nie, sê Jesus sélf dat niemand wat ooit geleef het groter as Johannes was nie. Die rede is duidelik: Alles wat Johannes oor Jesus gesê het, was die waarheid. Dit was waarheid wat Johannes hierdie voortreflike toesegging van Jesus laat bekom het. Dit spreek van karakter en integriteit. 

Baie van ons wat in die bediening staan, het al gebid en verlang dat ons bediening deur uitstaande genesings en wonders soos dié van groot Bybelfigure gekenmerk sal word, en dit is wonderlik dat die Here steeds wonders doen. Ongelukkig is die aanwesigheid van wonderwerke nie noodwendig ’n waarborg dat ons lewe voor God reg is nie. Jesus sê self: “Nie almal wat vir My ‘Here, Here sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was. Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in u Naam gepreek en in u Naam bose geeste uitgedryf en in u Naam baie wonders verrig!’ Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie’” (Matt. 7:21-23). 

Om te doen “wat voor God reg is”, spreek van waarheid, karater en integriteit.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Integriteit

Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://cumbooks.co.za