IntegriteitVoorbeeld
Ananias en Saffira
Die gebeure rondom Ananias en Saffira in Handelinge 5 laat ’n mens met ’n skok besef hoe sterk God voel oor leuens en oneerlikheid. Die verhaal is welbekend: hoe hierdie egpaar op die oog af iets goeds gedoen het deur van die geld wat hulle gekry het vir ’n eiendom wat hulle verkoop het na die apostels te bring. Aan die apostels het hulle egter te kenne gegee dat hulle die volle bedrag gegee het.
Luister na Petrus se woorde en die gebeure daarna: “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ’n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het” (Hand. 5:3-5, Bybel in Afrikaans 1933/1953). Dieselfde lot het kort daarna ook oor sy vrou gekom. Dis duidelik dat die goeie wat hulle gedoen het, nie opgeweeg het teen die feit dat hulle vir God probeer lieg het nie.
Dit is natuurlik één van die absolutes wat ons moet onthou: Daar is geen manier of moontlikheid dat ons enigiets vir God kan verbloem, wegsteek of valslik mee kan beïndruk nie. Niks is vir Hom verborge nie. Hy is die verpersoonliking van waarheid.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za