IntegriteitVoorbeeld
Integriteit vandag
Bobby Jones word gesien as een van die beste gholfspelers ooit. Maar benewens al sy oorwinnings op die gholfbaan, sal hy altyd onthou word vir wat gebeur het by die Amerikaanse Ope van 1925.
By die 11de putjie het Bobby, terwyl hy reggemaak het om ’n hou te speel, die gras rondom die bal versteur, wat veroorsaak het dat die bal beweeg. Bobby het dadelik ’n ekstra hou by sy telling gevoeg, al het niemand gesien dat die bal beweeg het nie. Ná die ronde en voordat hy sy telkaart geteken het, het die wedstrydbeamptes hom probeer oorreed om dit nie te doen nie, maar Bobby het voet by stuk gehou. Dit het veroorsaak dat hy die Ope met een hou verloor het. Toe toernooibeamptes hom probeer komplimenteer oor sy integriteit, het Bobby bloot gesê: “You might as well praise me for not breaking into banks. There is only one way to play this game.”
Bobby Jones het by die reëls van die spel gebly, en so die integriteit van die spel geëer. Hy kon die toernooi gewen het, maar hy sou sy integriteit verloor het. En sy integriteit was vir hom meer werd as om die Amerikaanse Ope te wen. Dít is integriteit, en dit moet bewonder word.
Ons lewe in ’n tyd wat groter waarde heg aan talent as aan integriteit, maar ons het dit verkeerd. Talent neem af oor tyd. Dieselfde geld intellek en voorkoms. Jy sal uiteindelik jou krag en dalk selfs jou verstand verloor. Maar jy hoef nie jou integriteit te verloor nie. Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word.
Hierdie oordenkings is saamgestel uit INTEGRITEIT deur Isak Burger © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za