IntegriteitVoorbeeld
Integriteit beteken nie volmaaktheid nie, maar egtheid
Die bekende Bybelkommentator, Matthew Henry, het by geleentheid geskryf: “Die man wat nie eerlik is nie, is nie godvresend nie.” ’n Mens kan onvolmaak wees en God in meer as een opsig faal, en steeds ’n “man van God” genoem word – solank hy tenminste eg en eerlik is, óók as hy gefaal en gesondig het. Dink maar aan Dawid en aan die erge sondes waaraan hy skuldig was: egbreuk en moord. Toe hy egter deur die profeet Natan gekonfronteer is, het hy nie kwaad geword, die blaam op iemand anders gepak of sy koninklike mag misbruik nie. Hy het met opregte berou sy sonde en skuld voor God bely: Ek het gesondig teen die HERE! (2 Sam. 12:13, Bybel in Afrikaans 1933/1953). Gaan lees gerus weer sy aangrypende boetedoeningspsalm, Psalm 51.
Ten spyte van Dawid se onvolmaaktheid is hy “’n man na die hart van God” genoem. Die rede hiervoor was nie omdat Dawid geen sondes gedoen het nie, maar omdat hy eerlik en eg was – óók ten opsigte van sy sonde, skande en swakheid. Was Dawid volmaak? Nee! Was hy ’n man van integriteit? Ja, vir seker!
Aan die ander kant kan iemand alle voortreflike en edel deugde hê waaraan jy kan dink, maar as hy nie eg en eerlik is nie, kan hy nooit kwalifiseer om ’n “man van God” genoem te word nie. Onegtheid, ’n gebrek aan integriteit, trek ’n streep deur al my ander mooi eienskappe – “Die man wat nie eerlik is nie, is nie godvresend nie!” Luister net na die prominente plek wat hierdie eienskap inneem in die lewe van die gelowige wat die karakter van Christus weerspieël: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil. 4:8, Bybel in Afrikaans 1933/1953).
Dit is dus belangrik dat integriteit nie verwar moet word met volmaaktheid nie. Terwyl die gelowige altyd moet streef na volmaaktheid, kan ons alleenlik ín Christus op volmaaktheid aanspraak maak. Natuurlik moet ons daarna streef om sonde in ons lewe sover moontlik uit te skakel en te vermy, maar wanneer ons wel gefaal en gesondig het, laat ons dit opreg voor God bely, en indien toepaslik, ook teenoor die persoon teenoor wie ek gesondig het.
Aangaande hierdie leesplan
Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za