Yster Slyp Yster: Life-to-Life® Begeleiding in die Ou TestamentVoorbeeld
Dag 3: Naomi en Rut
Net soos God vir Moses gebruik het om Josua as die toekomstige leier van sy mense op te lei, so het God ook vir Naomi gebruik om nader aan haar skoondogter Rut te kom gedurende 'n baie brose en kwesbare tyd in haar lewe.
Ons lees hulle verhaal in die vier hoofstukke van die boek Rut. Dit het afgespeel in die tyd van die rigters, nadat die Hebreërs hulle in die beloofde land gevestig het, maar voor hulle eerste koning gekroon is. Hongersnood in die land het daartoe gelei dat 'n man met die naam Elimelek, sy vrou, Naomi en hulle twee seuns van Betlehem na Moab getrek het.
Kort na die trek, tref 'n tragedie hulle wanneer Elimelek sterf. Naomi se seuns trou later met Moabitiese vroue, maar weer tref tragedie wanneer albei die seuns ook sterf. Die een vrou bly in Moab agter terwyl die ander een, Rut, haar skoonma volg wanneer sy na Betlehem terugkeer.
As 'n vreemdeling in haar man se land, Juda, het Rut naby Naomi gebly, wat haar mentor geword. Wanneer jy daaroor nadink, kon die twee nie meer verskillend gewees het nie. Die een was oud en die ander een jonk. Hulle het ook uit verskillende etniese, kulturele en godsdienstige agtergronde gekom.
Wanneer ons egter hulle verhaal lees, vind ons 'n gesonde interafhanklikheid. Ons sien ook dat Rut 'n verbondsverhouding met Naomi betree, wat die volgende opregte belofte insluit: "... u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei" (Rut 1:16b).
Die verhaal ontvou met Naomi wat die pad saam met Rut stap. Dan ontmoet Rut 'n man met die naam, Boas, en 'n verhouding begin tussen hulle groei. Naomi se mentorskap lei tot Rut en Boas se huwelik. Rut word koning Dawid se oumagrootjie en dus 'n voorouer van Jesus, die Messias!
Hulle verhaal herinner ons dat lewe-tot-lewe verhoudings tussen geslagte wedersydse voordele het. Ons het mekaar werklik nodig! Lewe-tot-Lewe dissipelskap is presies dit, elkeen deel sy of haar lewe met die ander — "pak die lewe saam aan." Soos in Naomi en Rut se geval, is dit moontlik dat sulke verhoudings in ons eie families te voorskyn kan kom.
Aangaande hierdie leesplan
Verlang jy daarna om "dissipels te maak wat dissipels maak", om sodoende in Jesus se voetspore te volg deur die groot sendingopdrag uit te voer (Matteus 28:18-20)? Indien wel, mag jy agtergekom het dat dit moeilik kan wees om rolmodelle vir hierdie proses te kry. Wie se voorbeeld kan jy volg? Wat beteken dit in die alledaagse lewe om dissipels te maak? Kom ons kyk in die Ou Testament hoe vyf manne en vroue deur hul lewens in ander se lewens (Life-to-Life®) belê het.
More