Ons God RegeerVoorbeeld

Wanneer ons in gebed op God vertrou, moet dit onvermydelik na 'n aktiewe oorgawe aan God lei.
Oorgawe is nie eenvoudig net 'n eenmalige of kortstondige besluit nie. Inteendeel, oorgawe het in ons daaglikse lewens langtermyn gevolge. Jesus het dit beaam toe Hy die volgende in Lukas 9:23 gesê het: "... As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg ..."
Wanneer ons na die huidige president of die politieke leiers van ons dag kyk, wie sien ons? Is dit mense wat waardig is dat ons van ons ambisies, doelwitte en begeertes ter wille van hulle sal afsien? Vir die meeste van ons lyk dit beslis oordrewe om ons lewens heeltemal ter wille van enige persoon te verander. Veral nie vir iemand wat ons nie ken nie, met wie ons nie identifiseer nie en wat waarskynlik binne 'n paar jaar uit ons lewens gaan verdwyn.
Deur die geskiedenis heen was daar al leiers van elke soort. Die mensdom het al leiers soos Dawid, Josia en Hiskia gesien, wat almal vir God gedien en aan Hom en sy heerskappy toegewyd was (1 Samuel 13:14, 2 Konings 18:5-7, 2 Konings 22:2). Alhoewel hulle harte begeer het om God te dien, was hulle nie sonder foute en tekortkominge nie. Die mensdom het ook al leiers soos Agab, Manasse en Menahem gesien. Hierdie konings het nie vir God gedien nie en is bekend vir vreeslike boosheid gedurende hulle heerskappye (2 Konings 15:16, 2 Konings 21:3).
In ons leeftyd, het ons ook al leiers gesien wat ons as goed en ander as glad nie goed, of selfs boos beskou het. Die vraag wat ons onsself moet afvra is: "Het daar enigsins iets oor God verander van die een aardse leier tot die volgende? Het sy karakter op enige wyse verander? Is sy beloftes nou enigsins anders as wat dit duisende jare gelede was?” Ons moet met 'n oorweldigende "Nee!" antwoord. God sit nog steeds op sy troon en Hy is gister, vandag en vir ewig dieselfde (Psalm 47:8, Hebreërs 13:8).
Dis God se begeerte dat ons Hom as ons heerser en finale gesag sal erken. Al te dikwels kies ons uit trots ons eie pad. God laat dit soms toe om vir ons te wys dat alles waarna ons in ons eie pogings streef, nutteloos is (1 Samuel 8:6-7). God wil hê ons moet ons denke, liggaam, siel en krag in ooreenstemming met sy Gees bring sodat ons heeltemal in oorgawe aan Hom en met sy leiding en rigtinggewing kan leef.
Wanneer ons daagliks in oorgawe aan Hom lewe, plaas ons ander voor onsself. Om met God op 'n persoonlike vlak te kommunikeer, laat ons toe om ons lewens met dade van heiligheid, gehoorsaamheid en diensbaarheid te leef.
Watter areas in jou lewe moet vandag aan God oorgegee word? Dink aan drie kere in die afgelope week waar jy jou doelbewus aan God oorgegee het. Sal jy op hierdie oomblik besluit om jouself aan God oor te gee?
Verbind jouself vandag en elke dag hierna om jouself aan God, as jou heerser, oor te gee. Wanneer jy dit doen, maak dit nie saak wie op die aardse troon sit en watter besluite daar geneem word nie, want jy sal God se vreugde en vrede in elke omstandigheid ervaar (Filippense 4:7).
Aangaande hierdie leesplan

Die vyf-dag leesplan fokus op die beloftes van Jesus, die natuur en die karakter van God, ongeag wie die president, eerste minister of koning op enige tydstip is.
More