Sewe Wette van LiefdeVoorbeeld

7 Laws Of Love

DAG 6 VAN 7

Liefde bring genesing

Jesus was die fisieke verpersoonliking van liefde, en dus maak dit sin dat Hy ook die verpersoonliking van genesing was. Oral waar Hy gegaan het, het Hy mense liefgehad en op twee maniere genees: deur sy woorde en sy aanraking.

Ons kan dieselfde doen om liefde en genesing in ons verhoudinge voorop te stel.

Wees gewillig om 'n vriendelike woord te spreek teenoor 'n geliefde in jou lewe wat vandag bemoediging nodig het. Stuur 'n bemoedigende boodskap, of selfs nog beter, tel die foon op en bel. Moenie toelaat dat jou liefde 'n onuitgesproke aanname bly nie. Maak seker dat jou geliefdes presies weet hoe lief jy hulle het deur dit met woord en daad te wys.

Jesus het vir ons baie voorbeelde van sy genesende krag in die Bybel gegee. Een van die bekendstes is die vrou wat vir baie jare aan bloedvloeiing gely het. Haar toestand was nie net pynlik nie, maar weens haar kultuur is sy ook uit die samelewing verstoot. Sy het fisiek, sowel as in verhoudinge, lyding ervaar. 'n Ontmoeting met Jesus sou dit alles vir haar verander: Jesus het die genesing gebring wat sy nodig gehad het. Hy het egter nie net haar liggaam genees nie. Sy liefde het ook haar siel genees. Hy het haar menslikheid herbevestig. Hy het haar aan haar oneindige waarde herinner. Hy het haar aangespreek as 'n aangenome lid van sy eie familie. Hy het haar gesond gemaak met 'n aanraking en ook met sy woorde (Markus 5:34).

Genesing vloei voort uit verhoudinge. Jesus het hierdie vrou as "dogter" aangespreek, om haar te herinner dat God nie ver van haar af was nie. Sy was deel van God se familie. Jesus het omgegee vir haar fisieke behoefte, maar Hy het ook tyd ingeruim om haar behoefte aan verhoudinge aan te spreek. Hy doen dieselfde vir jou en my.

'n Ontmoeting met Jesus het altyd die mag om genesing te bring. Wanneer liefde teenwoordig is, is genesing ook teenwoordig. Dit sal nie altyd soos 'n wonderwerk lyk nie, maar dit sal altyd 'n verskil maak.

Jesus is nie 'n towergees in 'n bottel of 'n kitsbank wat jou gee wat jy dink jy nodig het nie. Hy is jou liefdevolle Verlosser, wie se planne vir jou lewe soveel beter is as jou eie planne. Die genesing wat liefde bring, mag dalk nie altyd lyk soos jy dink dit moet lyk nie, maar in die lig van die ewigheid, sal dit presies wees wat jy nodig het tot jou eie voordeel en die verheerliking van God.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

7 Laws Of Love

Met opregte liefde kan jy gesondheid en genesing in elke verhouding bring. Pastoor Dave Willis deel die “Sewe Wette van Liefde” wat in die Woord gevind word en bied praktiese raad oor hoe om liefde in aksie te laat oorgaan. Soos wat jy 'n beter begrip kry en liefde in die praktyk uitleef, sal jy die skoonheid van opregte liefde op nuwe en wonderbaarlike maniere ervaar.

More

Baie dankie aan Pastoor Dave Willis en Thomas Nelson wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://bit.ly/2jyBPHD