'n Leefstyl van VergifnisVoorbeeld
Ons het almal potensiële irritasies of oortredings in ons lewens. Sommige is miskien groot, ander is dalk klein, maar in alles is daar altyd 'n geleentheid wanneer ons kan oefen om te vergewe. Hier is nog 'n paar voorbeelde:
* Familie oor die algemeen. Ek het eenkeer 'n interessante gesprek met 'n vriend gehad oor familie byeenkomste tydens vakansies. Daar is 'n ouerige persoon wat knorrig, kieskeurig en krities is. Volgens my vriend se beskrywing neem die persoon die hele familie "gyselaar". Daarmee bedoel hy, hulle mag nie dit of dat doen nie, hulle mag nie dit of dat eet nie, alles moet op 'n sekere manier gebeur, almal doen alles verkeerd, ens. Ek kon sien dat dit baie spanning by my vriend geskep het. Daar kan baie variasies op hierdie tema wees, maar dikwels kan een (of meer) persone die hele dinamika in die familie verander. Ek glo ten volle dat gesonde, redelike perke vir sulke mense gestel moet word (selfs vir familielede). Heel eerste moet hulle egter vergewe word. Deur hulle te vergewe (gereeld as dit nodig is), in plaas daarvan om hulle te bespreek of hulle teenwoordigheid te vrees, maak dit vir God moontlik om in hul lewens te werk. Dit help jou ook om jou eie vrede te bewaar! Romeine 14:19 sê: “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.”
* Om gering geag te word. Dis so maklik om aanstoot te neem (en 'n wrok te koester) as iemand ons beledig, gering ag of ons nie erkenning gee nie. Dalk het jy vir iemand gewaai wat nie terug gewaai het nie. Dalk het iemand iets op 'n verkeerde stemtoon of met 'n verkeerde gesigsuitdrukking aan jou gesê, of dalk uit die hoogte met jou gepraat wat jou dom laat voel het. Dalk het iemand nie jou teksboodskap of oproep beantwoord nie en begin verbeel jy jou wat al die moontlike redes kan wees: ”Dalk is sy kwaad … of sy haat my … of dalk is sy hoogmoedig … nou ja, dan praat ek nooit weer met haar nie …” Intussen is daar miskien 'n doodeenvoudige rede. Voordat jy egter dinge persoonlik opneem, seer of kwaad voel omdat jy gering geag of dom laat voel is, wil ek voorstel dat jy eerder vergewe. Spreuke 12:16 sê: “'n Dwaas wys dadelik dat hy beledig voel; 'n verstandige mens laat nie blyk dat hy gekrenk is nie.” Vergifnis maak dit vir jou moontlik om weg te loop en te vergeet (dit te laat vaar) en nie toe te laat dat die seer of irritasie jou bybly nie.
Aangaande hierdie leesplan
Daar het al baie groot en pynlike dinge met ons almal gebeur — en vergifnis is die sleutel om van hierdie seer uit die verlede bevry te word. Wat as ons egter daarna strewe om 'n leefstyl van vergifnis te lei — waar niks ons pla nie, waar selfs ons kleinste seerkry sommer net soos water van 'n eend se rug afrol? Dit is die lewe van vryheid wat God vir ons wil hê!
More