Staan Sterk — Oorwin Teëspoed & Lewe Met SelfvertroueVoorbeeld

Standing Strong: Overcoming Adversity & Living Confidently

DAG 3 VAN 5

Wanneer Jy Jou Stem Verloor

Wanneer jy daaraan dink om jou stem te verloor, dink jy seker as gevolg van 'n siekte kan jy fisiek nie praat nie. Ek kan daarvan getuig dat hierdie soort manier om jou stem te verloor baie ongerieflik is! Daar is egter 'n ander manier om jou stem te verloor en dit is veel erger.

Ons almal ervaar tye wat die gewig van die lewe voel asof dit jou plat druk en wanhoop spoel in oneindige golwe oor jou. Aanvanklik veg ons met al die geloof wat ons bymekaar kan skraap om ons bekommernis en angs in bedwang te hou. As die aanslae aanhoudend kom, as die golwe aanhou breek, sal ons uiteindelik begin om ons geestelike stemme te verloor.

Ons voel nie in staat om die leuens met waarheid te bestraf nie. Ons maak ons monde oop om te midde van ons stryd die goedheid van die Here te verklaar, maar geen geluid kom uit nie. 

Ester is die beskermheilige van dié wat stom is. Sy herinner ons wat dit beteken om standpunt in te neem, selfs al dink ons ons kan nie. Ester se verhaal begin waar sy van haar huis af weggeneem word om deel te word van 'n magtige, maar dwase, koning se harem.

Ester het alles verloor — haar gesin, haar huis, haar identiteit en haar stem. Sy het waarskynlik baie maande in gebed deurgebring. Gedagtes soos: "Kan enigiemand my hoor? Gee enigiemand om wat van my word?" het seker deur haar kop gemaal.

Dan ontdek sy eendag dat die koning mislei is deur sy raadgewer, Haman, wat hy die meeste vertrou het, om 'n bevel uit te reik dat al die Jode in die koninkryk doodgemaak moet word.

In stomme verbasing het sy haar oom Mordegai gevra wat sy moes doen. Hy stuur toe vir haar die boodskap: "Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!" (Ester 4:13-14).

Ester het geweet dat sy moet standpunt inneem en het die perfekte oomblik gekies om Haman se sameswering voor die koning bloot te lê. Sy het gevra: "As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek." (Ester 7:3).

God het haar gebruik om op so 'n manier te praat dat sy die hele nasie van Israel kon red.

Sjoe. Praat van vas staan en jou stem vind.

Net soos Ester, staar ons tydperke van onsekerheid in die gesig. Ons voel onseker oor onsself, onseker oor ons drome en onseker oor God se planne. In hierdie tye kan ons weer ons stemme vind en bid dat God helderheid sal bring. Ons sien regdeur die Skrif dat Hy ons hoor wanneer ons roep, Hy is by ons en Hy sal ons nie verlaat nie, selfs al voel dit by tye so. 

God het planne vir jou, daar is krag in jou toekoms, en jy lees hierdie woorde omdat dit tyd is om met God 'n verbintenis te maak. Hy sal jou help om jou stem te vind. Hy sal jou die krag en mag gee om te midde van onsekerheid vir geloof te veg.

Om te Doen: Soos Ester moet ons vashou aan die waarheid dat ons sterk vroue van God is selfs wanneer die lewe buite beheer voel. Soek vandag een waarheid in die Bybel wat jy oor die onsekerheid in jou lewe kan uitspreek.

Gebed: Here, wys my waar ek my geestelike stem verloor het en help my om u woorde van waarheid oor my lewe te spreek, selfs wanneer ek met woorde sukkel. Openbaar aan my waar U werk terwyl ek wag. Ek vertrou dat U my krag sal hernu en my help om my stem weer te vind. 

 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Standing Strong: Overcoming Adversity & Living Confidently

Hierdie 5-dag leesplan uit Alli Worthington se nuwe boek, Staan Sterk, sal jou help om te onthou wie jy is wanneer jy voor swaarkry te staan kom en om God se droom vir jou te herwin. Dit is tyd om te besef dat jy sterker is as wat jy dink. 'n Vrou se plek is enige plek waarheen God haar stuur — wandel dus in die vertroue wat net van Hom af kom. Jy kan nie 'n vrou breek wat haar krag van God af kry nie.

More

Baie dankie aan Alli Worthington wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.alliworthington.com/standingstrong