Staan Sterk — Oorwin Teëspoed & Lewe Met SelfvertroueVoorbeeld

Standing Strong: Overcoming Adversity & Living Confidently

DAG 2 VAN 5

Kom Uit Jou Wegkruipplek

Partykeer kan 'n enkele oomblik jou lewe vir altyd verander. 

Ek het 'n paar jaar gelede so 'n ervaring gehad. Ek was heeltemal tevrede met my lewe, my roeping en my loopbaan. God het egter 'n ander plan vir my gehad. Asof uit die niet het ek gevoel dat God met my praat oor 'n lewensverandering wat Hy wou hê ek moet maak. 

Ek het aangeneem dat ek Hom verkeerd verstaan en het vir 'n paar intieme vriende vertel van die vreemde idee wat God vir my gefluister het. Ek het my voorgestel hulle sal sê: "Alli, jy is gek! Jy het 'n goeie lewe. Jy maak hier 'n impak vir die koninkryk. Hoekom wil jy alles verander?" In plaas daarvan het hulle bevestig waarvoor ek voor bang was. God het my lieflike klein lewetjie kom onderbreek en my gevra om 'n groot vreesaanjaende geloofsprong te neem. 

Ek het 'n miljoen vrae vir God gehad, maar ek het nie enige antwoorde gekry nie. Al wat ek geweet het was, as ek bly waar ek is, sal dit wees soos om op 'n plek te bly waar ek nie veronderstel is om te wees nie. God het my geroep: "Waar is jy? Sal jy uit jou wegkruipplek kom en My volg?"

Daar is 'n vrou in die Bybel vir wie God ook dieselfde vraag gevra het — Eva. Nadat sy en Adam van die verbode vrug geëet het wat sonde in die wêreld gebring het, het hulle vir die eerste keer vir God weggekruip. Natuurlik het Hy geweet waar hulle was, maar Hy het in elk geval gevra: "Waar is julle?" Dit was nie 'n retoriese vraag nie. Hy het 'n antwoord verwag, nie tot sy voordeel nie, maar tot hulle s'n.

God se eerste vraag aan die mensdom is een wat Hy steeds vandag vir ons vra. Hy vra ons nog steeds die vraag, want partykeer het ons 'n wekroep nodig.

Waar is jy?

Waar is jy in die lewe?

Waar is jy met jou verhoudinge?

Waar is jy met jou drome?

Waar is jy?

Toe God my geroep het om die rigting van my lewe te verander, het ek besef dat ek 'n keuse het om te maak. Gaan ek op God reageer en 'n geloofstree in die onbekende gee of gaan ek Hom ignoreer en in my wegkruipplek bly? Ek het op die randjie van 'n onbekende toekoms gestaan en moes die moed bymekaar skraap om die volgende treetjie te neem.

Is jy nou in so 'n tydperk waar God jou liggies aanpor om groot, moedige geloofstreë in 'n nuwe rigting te gee? 

Miskien is jy in vrees verstar, nie in staat om vorentoe te beweeg nie. God hou aan om vir jou te fluister en jy bly staan in vertwyfeling. Jy is oorweldig deur die onbekende, wagtend op wie weet wat om vir jou toestemming te gee om vorentoe te beweeg. 

Kom ek jou vertel suster, ek was in jou skoene en God doen sy grootste werk in die geheim. In ons swakheid, in ons onvermoë en in ons deurmekaar lewe, doen Hy wonderlike werk deur ons te gebruik op so 'n manier dat Hy die enigste verduideliking is.

Hoe sou die lewe wees as jy die volgende keer wat God jou vra: "Waar is jy?" uit jou wegkruipplek kom en antwoord: "Hier is ek Here, en ek is reg vir wat U ook al volgende wil hê ek moet doen!" 

Om te Doen: Die eerste tree om in gehoorsaamheid te neem, is om te antwoord: "Hier is ek, Here." Maak 'n lys van die bekommernisse en twyfel wat jou verhoed om die volgende tree te gee. Plaas elke item voor God in gebed en sê vir Hom: "Hier is ek Here!" 

Gebed: Here, hier is al die vrese wat my laat wegkruip het. Ek gee dit aan U oor en ek is reg om in gehoorsaamheid te antwoord op U roeping. Vul my met moed. Help my om u stem te hoor. Ek is gereed om U te volg waar U my ook al lei! Amen.

 

 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Standing Strong: Overcoming Adversity & Living Confidently

Hierdie 5-dag leesplan uit Alli Worthington se nuwe boek, Staan Sterk, sal jou help om te onthou wie jy is wanneer jy voor swaarkry te staan kom en om God se droom vir jou te herwin. Dit is tyd om te besef dat jy sterker is as wat jy dink. 'n Vrou se plek is enige plek waarheen God haar stuur — wandel dus in die vertroue wat net van Hom af kom. Jy kan nie 'n vrou breek wat haar krag van God af kry nie.

More

Baie dankie aan Alli Worthington wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.alliworthington.com/standingstrong