Veg vir Eensgesindheid in 'n Verdeelde WêreldVoorbeeld

Fighting for Unity in a Divided World

DAG 2 VAN 5

Noodsaaklike Verskille

Het jy geweet dat elke nasie, besigheid, span of organisasie, mense nodig het wat anders kan dink om die beste te wees wat hulle saam kan wees? Dit is die krag van uiteenlopendheid — mense met uiteenlopende gedagtes, opinies en sieninge wat bymekaar gebring word om iets beters te bou.

Jim Collins het in sy boek, Built to Last, die volgende oor noodsaaklike verskille gesê:

Groot organisasies wat lank bestaan, openbaar 'n dinamiese tweeledigheid. Aan die een kant het hulle 'n stel tydlose kernwaardes en doelstellings wat met verloop van tyd onveranderd gebly het. Aan die ander kant het hulle 'n onversetlike dryfveer vir vooruitgang — verandering, verbetering, innovering en vernuwing. Groot organisasies tref 'n duidelike onderskeid tussen hulle kernwaardes (wat nooit verander nie) en hulle operasionele strategieë en kulturele praktyke (wat voortdurend by 'n veranderende wêreld aanpas).

Hy noem hierdie dinamiese tweeledigheid, die weg om beide die "kern te behou" en "vooruitgang te stimuleer". Deur hierdie terminologie te gebruik, help dit ons om die verskillende prosesse wat in politiek ter sprake is, beter te verstaan en te waardeer.

Afhangende van die konteks, kan die een kant plek maak vir 'n groter waarde wat aan die "behoud van die kern" geheg word, terwyl die ander kant 'n groter waarde daaraan mag heg om "vooruitgang te stimuleer." Hierdie verskille kan uitdagend wees, want hulle kan meningsverskille veroorsaak. Hierdie meningsverskille kan ons egter ook verbeter. 

Sonder mense wat veg om vooruitgang te stimuleer, kan geen groep ooit die veranderinge maak wat nodig is om op 'n veranderende wêreld te reageer nie. Sonder mense wat veg om die kern te behou, sal groepe die kernwaardes asook die doel prysgee wat hulle bymekaar hou.

Hierdie meningsverskille kan baie maklik tot soveel verdeeldheid lei, dat dit moeilik is om die waarde raak te sien wat die ander kant toevoeg. Ons het so ver van mekaar af wegbeweeg, dat ons opgehou het om met mekaar te praat en meestal net op mekaar skree.

Raai wat? Die mense met wie ons meningsverskille het, is net mense wat probeer om die beste te doen met dit wat hulle weet. Is hulle reg oor alles? Nee, maar ons ook nie. Dit is ook goed so. Eintlik is dit nodig.

Uiteenlopendheid sal meningsverskille veroorsaak, maar dit hoef nie verdeeldheid te skep nie. Eenheid verg verskeidenheid. Sonder uiteenlopendheid sal ons in ons eenvormigheid vasgevang wees.

Die apostel Paulus het in sy brief aan die Korintiese kerk die krag van noodsaaklike verskille pragtig geïllustreer. Hy het die beeld van 'n menslike liggaam gebruik om te beskryf hoe die kerk veronderstel is om te funksioneer. 'n Voet verskil van 'n skouer en 'n oor verskil van 'n knie. Die verskillende liggaamsdele laat ons liggaam toe om te kan funksioneer. As elke deel 'n oor was, sou jy nie kon loop, praat, eet, ruik of sien nie. Die verskillende liggaamsdele is nodig vir die liggaam om reg te funksioneer.

Verskille is noodsaaklik. Verskille maak ons beter. Verskille maak ons sterker.

Om die noodsaaklike verskille te kan verstaan wat waarde toevoeg, is 'n belangrike stap in die rigting van eenheid en weg van verdeeldheid af.

Bid: Vader, help my om die noodsaaklike verskille raak te sien wat elke persoon tot die span toevoeg. Help my om ontvanklik te wees vir die sienings en idees van ander. Help my om in die rigting van eenheid en weg van verdeeldheid te beweeg.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Fighting for Unity in a Divided World

Hoe volg jy Jesus getrou in 'n verdeelde wêreld? In 'n wêreld waar elke kwessie 'n groot geveg tussen "ons" en "hulle" geword het, is dit belangriker as ooit om te onthou dat Jesus steeds op die troon is, ongeag wat gebeur. Leer hoe om soos 'n dissipel van Jesus te reageer op 'n wêreld wat al hoe meer verdeeld raak.

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/