Neem Jou Lewe Terug: Dink Reg Sodat Jy Reg Kan LeweVoorbeeld

Take Back Your Life: Thinking Right So You Can Live Right

DAG 4 VAN 5

Hardloop Na die Gebrul

Wanneer jy weghardloop van dinge wat jou bang maak, beweeg jy egter na gevaar, nie weg daarvan nie. Wanneer jy daardie paniekerige veg-of-vlug sensasie voel en jy wil weghardloop, doen dan die teenoorgestelde. Hardloop na die gebrul toe. "As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!" (Ester 4:14). 

Toe ek en Jennie ons dogter verloor het, het ons besluit dat ons daardeur sou kom deur ná die gebrul toe te hardloop. Dit is verskriklik om deur die proses van droefheid te gaan, maar toe ons dit alles direk in die gesig gestaar het, kon ons vorentoe beweeg die toekoms in. Ek bid dat jy nooit deur dieselfde hoef te gaan nie, maar of ons daarvan hou of nie, ons sal almal voor ons vrese moet staan óf ons lewensdoel moet laat vaar. 

Die enigste pad na die lewe wat jy veronderstel is om te bereik, is om die diepte in te vaar en die vreesaanjaende dinge te konfronteer. God roep ons na plekke wat ons bang maak sodat ons Hom ten volle sal vertrou. Die enigste manier waarop jy die soort dinge wat Hy begeer kan doen, is om elke keer ná die gebrul toe te hardloop.

Dikwels is dit ons vrees vir mislukking wat ons in die vlak waters van die lewe hou. Die enigste manier om by oorwinning uit te kom, is om gewillig te wees om op jou reis foute te maak. Om iets te verduur waarvoor jy bang is, en steeds dapperheid aan die dag te lê, het alles te doen met jou houding en uitkyk. God is nie bang waarvoor jy bang is nie, maar jy hoef nie voor te gee dat jy nie bang is nie. Om jou vrees 'n naam te gee is deel daarvan om dit te oorkom. Dit is ook belangrik om te onthou dat Jesus altyd by jou is. Hy gee jou die krag om jou vrese die hoof te bied. 

Jy kry ook krag wanneer mense vir jou bid. Dit gee jou ondersteuning terwyl jy voor jou vrese staan en help jou om ontslae te raak van die dinge wat jou weghou van God se doel vir jou lewe. Bring tyd deur in die Woord van God, praat deur die dag eerlik met God, luister na aanbiddingsmusiek, laat ander toe om jou te ondersteun en dien in jou plaaslike gemeenskap van gelowiges. Elkeen van hierdie strategieë maak die deur vir God oop om sy reinigingswerk in jou hart te doen.

As kind van God het jy 'n arsenaal van krag wat op bystand is. Die krag wat lei tot oorwinning is nie in ons of van ons nie; dit is van God en kom uit sy hand na ons toe. Om dit tot jou beskikking te hê en om dit te gebruik is twee totaal verskillende dinge. Een van die grootste foute wat jy kan maak, is om God se werk sonder God se krag te probeer doen. Om die Naam van Jesus te gebruik terwyl jy bid het krag, en daardie krag is geheel en al tot jou beskikking; al wat jy moet doen is om dit te gebruik. 

Hardloop na die gebrul! Wanneer die vyand jou nader om jou te versmoor, staan op in geloof en vertrou op die krag van die Heilige Gees. Wanneer jy vol angstige gedagtes en bekommernis is, en geestelike oorlogvoering en groepsdruk van die wêreld jou wil oorweldig, moenie terugdeins nie; gaan dit tegemoet. In Christus kan jy dit doen. Dit sal nie maklik of vinnig of pynloos wees nie, maar jy kan dit doen. Moenie moed verloor nie. Ons het lewende hoop, want ons het 'n lewende God. 

Reageer

Watter vrese, angs, moedeloosheid of verliese moet jy in jou lewe konfronteer? Hoe kan God en sy volgelinge jou ondersteun om dit te doen?

Hoe ervaar jy die vyand se werking om jou voorwaartse vordering tot geloof te probeer stuit? Het jy al die hulpbron van gebed gebruik om uitdagings die hoof te bied? 

Watter strategieë kan jy gebruik om die deur vir God se reinigende krag en oorwinning oor die vyand oop te maak?

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Take Back Your Life: Thinking Right So You Can Live Right

Neem stappe om jou lewe terug te neem. Hierdie 5-dag leesplan is gebaseer op Levi Lusko se boek "Take Back Your Life". Jy sal ontdek hoe die krag van die Heilige Gees jou kan help om die dinge te herken wat jou aftrek of terughou, en jou toerus om dit te konfronteer terwyl jy die beste weergawe van jouself word.

More

Ons wil graag vir HarperCollins/Zondervan/Thomas Nelson vir die verskaffing van hierdie leesplan bedank. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://bit.ly/takebackyouversion