Droom Groot met Bob GoffVoorbeeld

Wanneer jy uitermatig misluk, is jy nie alleen nie. In die Bybel is daar baie mense met wie jy jou kan vereenselwig. Hiervan is Abraham 'n voorbeeld. Jy kan in Genesis lees hoe hy voortdurend sy eie gang gegaan het sonder om God te raadpleeg. Tog het God aan Abraham gesê dat die wêreldwye geloofsfamilie direk van hom sou afstam. Dawid het 'n paar dramatiese mislukkings op sy kerfstok gehad waarvan almal gehoor het, insluitend owerspel en moord. Tog het die geslagsregister van Jesus deur hom gekom. Hy word selfs beskryf as 'n man na God se hart. Hoe belaglik is dit nie?
In ons kultuur en samelewing is presidente al afgedank en pastore geskors vir veel kleiner oortredings. In hemelsnaam, Moses het 'n man doodgemaak, maar tog het God hom gekies om sy woorde oor hoe ons moet lewe op 'n kliptafel vas te lê. Daarna het hy 'n volk na die beloofde land gelei. God wys ons keer op keer dat ons mislukkings ons nie diskwalifiseer nie, maar ons eerder voorberei.
In der waarheid is die meeste mense meer besorg daaroor dat ander hulle miskien kan sien misluk as om regtig te misluk. Dus probeer ons almal tot 'n sekere mate optree asof ons glad nie misluk nie — nooit nie. Ek het nog nie 'n boodskap op sosiale media gesien waar iemand 'n verhouding beëindig of voor 'n versoeking geswig het nie. Ek het nog nie een foto gesien van 'n man wat vyftien meter van die bergkruin af moed opgegee het; of met 'n toets gekul het; of sy humeur verloor het; of deur SARS ge-oudit is of op sy kind geskree het nie.
Ons behoefte aan goedkeuring kan ons koppe deurmekaar maak. Ons wonder of ons die enigste is wat soms groot en klein mislukkings beleef. Moenie mislei word deur te dink dat jy die enigste een is wat voortsukkel met probleme nie. Mislukking skep 'n uitnodiging wat jy sal misloop as jy voorgee dat dit nie gebeur het nie. Skeur 'n kaartjie of twee op. Dit is in orde. Aan die ander kant van 'n dramatiese mislukking kan ewe dramatiese skoonheid en egtheid wees, wat slegs gebore word uit die begrip van ons desperate behoefte aan liefde, genade en hulp.
Aangaande hierdie leesplan

Leer om jou drome duidelik vir jouself te definieer. Identifiseer die struikelblokke wat jou terughou. Stel dan 'n spesifieke plan op om jou doelwitte te bereik. Ontwikkel ook die vaardighede wat jou sal help om volgens jou plan op te tree.
More