Wysheid om Reg te LeefVoorbeeld
Bekom Wysheid
Die meeste van ons sal saamstem dat die koste van naskoolse opvoeding in die laaste paar jaar die hoogte ingeskiet het, in die meeste gevalle, vinniger as die lewenskoste. Om kennis te bekom is duur. Dit kos nie net geld nie, maar ook tyd en inspanning. Die Bybel vertel ons ook dat wysheid duur kan wees. Die koste is baie groot, en 'n persoon wat nie bereid is om die prys te betaal nie, kan moontlik jare deurbring om kennis te bekom en tog uiteindelik baie min wysheid hê.
In sy inleiding tot Spreuke, gee Salomo sy seun raad: "Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry" (Spreuke 4:7). Met hierdie woorde moedig Salomo moontlik sy seun aan om sy tyd te bestee deur homself ywerig toe te wy aan sy studies. Moontlik moedig hy hom aan om dinge op te offer wat hy eerder sou wou doen, om sodoende wysheid te bekom. Ook moedig hy hom moontlik aan om uit sy ervarings te leer, hoe moeilik dit ook al mag wees. As ervaring die beste leermeester is, dan kan dit soms ook die moeilikste leermeester wees. Wat hy ook al bedoel, hy sê dit kan duur wees om wysheid te bekom.
Salomo druk homself sterk uit wanneer hy beskryf hoe om wysheid te bekom. Hy hoop dat sy seun homself sal inspan om te verstaan, hard roep na insig en gesonde begrip, gretig daarna sal soek soos na silwer en dit vasberade sal opspoor soos 'n verborge skat (Spreuke 2:2-4). Hierdie is 'n proses wat fokus en inspanning verg. Wysheid kom nie sommer na ons toe nie, dit moet ernstig nagestreef word. Wanneer ons mense dophou, lyk dit of sommige net van nature wyser is as ander. Nietemin, in hierdie Skrifgedeelte vertel Salomo ons dat mense wat moeite doen, wysheid kan bekom. Dit is die een kant van die saak.
Die ander kant is dat God wysheid gee. Salomo skryf: "Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken. Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom kennis en die insig" (Spreuke 2:5-6). Soos in die meeste gevalle in die Woord, werk die Goddelike en die menslike kant saam. Dit is God wat gee, maar Hy verwag dat ons onsself moet inspan om dit te ontvang.
Word jy wyser? Is wysheid een van die doelwitte in jou lewe? Streef jy na wysheid? Beoefen jy die vrees van die Here as voorvereiste? Beklee Hy die eerste plek in jou lewe? Die alternatief is dwaasheid.
Gebed: Here, gee my 'n hart om wysheid na te streef en dit te verstaan wanneer ek dit vind. Laat my nooit wegdraai van die vrees van die Here nie. Mag ek U altyd as die enigste Here hê en u heerlikheid en krag herken. U is Heer.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In ons vinnig veranderende en geweldig uitdagende wêreld, het ons wysheid nodig om te leef. Ons samelewing trek en stoot ons in verskillende rigtings, en in hierdie onrus het ons 'n geesteskompas nodig om ons op die regte pad te lei. Ons het wysheid nodig om reg te leef. In die sewe-dag leesplan, hoofsaaklik op Spreuke gebaseer, verken ons hierdie onderwerp soos aangebied deur Salomo.
More