Wysheid om Reg te LeefVoorbeeld

Wisdom for Right Living

DAG 4 VAN 7

Ontdek die Wil van God

Sam het ons vertel van sy visvang uitstappie saam met sy broer, Tim. Hulle het pas teruggekeer van die noorde en het 'n fantastiese tyd gehad. "Ons het met ons gids, Charlie, gereël," vertel Sam, "dat hy ons die oggend sou kom optel by die hotel vir die eerste dag se visvang. Met sy aankoms het hy ons gevra om 'n minuut te wag voordat ons in die voertuig klim. Hy het ons meegedeel dat daar taamlik steil geklim moes word nadat ons die voertuig op die die bergkruin sou agterlaat. Toe vou hy 'n kaart op die enjinkap oop en wys ons waar ons sou visvang en die roete wat ons sou neem."

Ons vriend Bill onderbreek hom: "Man, dit is interessant. Die man wat ons 'n paar jaar gelede as gids gehad het, het nooit vir ons enigiets op 'n kaart gewys nie. Hy het net gesê: "Volg my."
Hierdie verhaal illustreer twee maniere waarop leiding gegee kan word. Die een manier is om die roete op 'n kaart uit te wys, maar die ander manier is om net te sê: "Volg my." Toe ek die Here as 'n tiener leer ken het, het die prediker vir my 'n Bybel gegee, en daarin was verskeie verwysings aangeteken. Een van hulle was Spreuke 3:5-6: "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop." Hierdie sê nie dat die Here die kaartmetode of die volg-my-metode gebruik nie, maar dit sê wel dat Hy ons sal lei.

Die vereiste is volkome vertroue. Ek moet nie op my eie insig staatmaak nie, ek moet vertroue hê in die wysheid van God. Hy weet die beste. Hy mag my moontlik nie die pad vorentoe op die kaart wys nie. Hy mag moontlik sê: "Volg my." Waarvan ek wel seker kan wees, is dat Hy die pad ken en Hy wil hê dat ek dit moet vind.

Om selfonderhoudend en onafhanklik te wees, is die wêreld se manier. God se manier is om in geloof te wandel — en geloof is afhanklikheid. Hy is die gids, en ons gee nie vir die gids aanwysings nie; ons kry aanwysings van die gids. As ons God erken as ons gids, volg ons sy aanwysings.

Gebed: Here, help my om met my hele hart op U te vertrou, om aan U erkenning te gee vir elke pad en by elke vurk in die pad waarop ek stap. Help my om nie op my eie insig staat te maak nie, maar om u leiding dag vir dag te vertrou. Wanneer ek nie weet waarheen die pad gaan lei nie, help my om die volgende stap in geloof te neem. 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Wisdom for Right Living

In ons vinnig veranderende en geweldig uitdagende wêreld, het ons wysheid nodig om te leef. Ons samelewing trek en stoot ons in verskillende rigtings, en in hierdie onrus het ons 'n geesteskompas nodig om ons op die regte pad te lei. Ons het wysheid nodig om reg te leef. In dié sewe-dag leesplan, hoofsaaklik op Spreuke gebaseer, verken ons hierdie onderwerp soos aangebied deur Salomo.

More

Ons wil graag vir Kingdom Driven bedank wat hierdie plan voorsien het. Besoek asseblief https://kingdomdrivendaily.com vir meer inligting