Wanneer Jy God Nie Verstaan NieVoorbeeld
Om Vrede in die Spanning te Vind
Die woorde vrede en spanning blyk teenstrydig te wees, nie waar nie? Dit is moeilik om vrede te ervaar wanneer dinge gespanne is. As volgelinge van Jesus kan ons selfs vrede beleef wanneer dit voorkom asof dinge om ons buite beheer is, omdat sy teenwoordigheid vrede in ons teweegbring ... selfs wanneer ons vrae nie beantwoord word nie.
Hier volg 'n vinnige nuusflits: ons sal altyd vrae vir God hê. Hy is die alwetende, almagtige en alomteenwoordige Skepper van die heelal. Daar sal altyd 'n mate van misterie aan ons God verbonde wees. Is dit nie wat ons wil hê nie? Wil ons regtig God en sy weë volkome ken, verstaan en ten volle begryp? Wil ons nie liewer 'n God volg wat groter, slimmer, wyser en intelligenter as ons is nie, eerder as om alles te weet wat Hy weet? Die waarheid is dat ons Hom nie nodig sal hê as ons al die antwoorde het nie.
As jy mooi daaroor dink, is dit effe arrogant van ons om God te bevraagteken. Dit klink selfs effe belaglik vir mense om te dink dat hulle weet wat die beste is, of meer weet as die Skepper van die heelal. Toegegee, ons bevraagteken soms net vir God omdat ons seerkry en ons gedink het ons plan was heel goed. Ons wou graag gehad het dat ons geliefde gesond moes word, dat siekte uitgewis moes word of dat natuurrampe tot 'n einde moes kom. Daardie begeertes maak alles vir ons sin, waarom sou dit nie vir God sin maak nie?
Daarin lê die spanning. Dit is amper tasbaar, nie waar nie? Soms wil dit net nie weggaan nie, en moet ons kies om die vrede wat Jesus bring te beleef ten spyte van die feit dat sommige van ons vrae nooit beantwoord sal word nie. Dit is die deel van die Christelike lewenspad waar ons geloof 'n krisisvlak bereik. Ons kies óf om nader na God toe te beur, óf ons draai ons rûe woedend op Hom en stap weg van ons geloof af. Om weg te loop sal vir ons 'n dubbele deel smart tot gevolg hê. Is dit nie beter om God se vrede te midde van ons pyn en vrae te beleef, eerder as om steeds vrae sonder sy vrede te hê nie?
In plaas daarvan om God te bevraagteken, moet ons miskien eerder die wêreld se weë meer bevraagteken? Ons glo dikwels so maklik die twyfel wat ons van ander, en ook onsself hoor, en tog bevraagteken ons die Een wat die wêreld geskep het. Hoekom kan ons nie liewer wat mense sê, of wat ons vir onsself sê bevraagteken, eerder as om altyd vir God te bevraagteken nie? Dit waarna ons luister en glo veroorsaak dat ons God óf bevraagteken, óf na Hom toe hardloop.
Hardloop dus na Hom toe met jou vrae, vrese, twyfel en bekommernisse. Hy kan dit hanteer, en soos wat jy dit doen, sal jy sy vrede ervaar terwyl jy tegelykertyd deur jou twyfel veg en jou vertroue in Hom groei. Vra dus vir God om Homself aan jou te openbaar en dat sy volmaakte vrede te midde van die spanning van onbeantwoorde vrae jou denke sal vernuwe.
Aangaande hierdie leesplan
Ons almal het al vrae oor God gehad — sommige is beantwoord, en sommige nie. Die waarheid wat ons uit die Bybel leer sal ons help om antwoorde op baie van ons vrae te vind. Die antwoorde wat ons net nie kan kry nie, asook die vrae wat onbeantwoord bly, kan ons as dryfkrag gebruik om God meer intens na te jaag.
More