Wanneer Jy God Nie Verstaan NieVoorbeeld
As God goed en liefdevol is, hoekom bestaan daar soveel boosheid in die wêreld?
Dit is 'n oeroue vraag wat al oor die eeue heen gevra word, en waarskynlik altyd gevra sal word. Dit kom voor dat die antwoord ons verstand te bowe gaan. Ongeag wat aan ons vertel word of hoeveel ons leer, is ons net nie tevrede met die antwoorde wat ons kry nie — veral wanneer nuwe krisisse en booshede elke dag te voorskyn kom.
In Genesis 1 word die skeppingsverhaal noukeurig vertel. God het die wêreld perfek gemaak, asook die skepping van die mens. God het Adam in die tuin van Eden geplaas en het die volgende opdrag in Genesis 2:16-17 gegee: "... Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie ..." God het 'n keuse gebied om aan Hom gehoorsaam te wees of nie. Wanneer ons kies om ongehoorsaam aan God te wees, sal ons keuses tot boosheid lei. God het nie boosheid geskep nie — dit is die resultaat van ons sondige keuses.
Dit blyk steeds nie ons vraag te beantwoord nie. Ja, ons het vryheid wat ons toelaat om te kies, maar waarom het ons goeie, liefdevolle God dit toegelaat? Het Hy nie geweet dat sommige van ons keuses bose uitkomste sou hê nie? Het Hy nie geweet hoeveel pyn ons sou verduur as gevolg van iemand anders se optrede teenoor ons nie? Ja. Omdat hy alwetend is, het Hy geweet en weet Hy steeds. Dit veroorsaak dat hierdie hele situasie sy sirkel voltooi waar ons weer die vrae vra: "As God goed en liefdevol is, hoekom bestaan daar soveel boosheid in die wêreld?"
Boosheid bestaan. Miskien sien en hoor ons van soveel boosheid omdat dit ons aandag trek. Ongelukkig is die nuus wat ons sien of lees, meestal sleg. Dikwels hoor ons eers aan die einde van die nuusuitsending 'n opbouende, bemoedigende nuusberig wat ons 'n bietjie rustiger laat voel, nie waar nie? Ons kom agter dat ons meer dikwels sulke tipe nuus wil hê.
Tot tyd en wyl sterflike mense ons wêreld bewoon, sal daar altyd boosheid wees, dus mag ons moontlik nie 'n antwoord vind waarmee ons tevrede is nie. Wat as ons ons fokus sou wegdraai van die boosheid in die wêreld, en nie slegs soek vir die goeie nie, maar ook ons deel as volgelinge van Jesus bydra om hoop en herstel te bewerkstellig? Wat as ons minder tyd deurbring om vrae te vra waarom booshede plaasvind, en meer tyd gebruik om hoop en hulp aan te bied vir diegene wat met hul eie pyn sukkel? Wat as ons in plaas daarvan om 'n onbegryplike ding soos boosheid te probeer verstaan, eerder ons deel bydra om 'n verskil in mense se lewens te maak deur hulle te bedien, en Jesus met hulle te deel?
Die rol waartoe ons geroep is om te speel, is om die goeie te soek, en te probeer om goeie dinge te doen in ons wêreld en aan die mense wat daarin woon. Ons sal vind waarna ons soek. Dus, kom ons soek die goeie.
Aangaande hierdie leesplan
Ons almal het al vrae oor God gehad — sommige is beantwoord, en sommige nie. Die waarheid wat ons uit die Bybel leer sal ons help om antwoorde op baie van ons vrae te vind. Die antwoorde wat ons net nie kan kry nie, asook die vrae wat onbeantwoord bly, kan ons as dryfkrag gebruik om God meer intens na te jaag.
More