Wanneer Jy God Nie Verstaan NieVoorbeeld
Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?
Hierdie is waarskynlik die algemeenste vraag wat mense aanmekaar oor God vra: "Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?" Ons is geneig om hierdie vraag te vra wanneer 'n goeie persoon voortydig sterf, of wanneer 'n eerlike persoon verkeerdelik van 'n misdaad beskuldig word. Die vraag blyk sy oorsprong te hê vanuit wat regverdig en onregverdig is.
Slegte dinge gebeur. Daar gaan ongelukkig nooit 'n dag op hierdie aarde verby waartydens daar nie iets slegs met iemand gebeur het nie. Een rede waarom slegte dinge gebeur, is omdat daar tans ongeveer agt miljard mense op die aarde woon, van wie elkeen hul eie keuses kan maak. Elke persoon beskik oor 'n verskeidenheid sienswyses en geloofstelsels wat mense lei om hul eie keuses te maak. As die lewensuitkyk nie Bybels is nie, is keuses nie in ooreenstemming met God se standaarde nie, en dit lei gewoonlik tot sonde. Elke sonde het gevolge wat baie vernietiging aan die aarde en aan ons lewens teweeg kan bring.
Aangesien ons geneig is om God net te bevraagteken wanneer slegte dinge met goeie mense gebeur, kom ons oorweeg die alternatief. As God die enigste goeie Een in die wêreld is, en nie ons nie, kom ons vra: "Hoekom gebeur goeie dinge met slegte mense?" Ons almal kan die goeie dinge in ons lewens tel wat uit God se hand kom. Natuurlik beleef ons moeilike tydperke in ons lewens, maar ons het ook ontelbare seëninge. Wat as ons erkenning daaraan gee dat elke goeie ding in ons lewens 'n geskenk is, en nie iets wat ons verdien nie? Wat as ons in plaas daarvan om met 'n houding van eiegeregtigheid te verwag dat ons alles behoort te ontvang wat ons van God vra, asof Hy ons persoonlike towergees is, eerder kies om in dankbaarheid te wandel en te erken dat God ons veel meer seëninge gee as wat Hy nié gee nie?
God is aan die einde van die dag oppermagtig, en Hy het 'n plan. Ons is nie op die aarde sodat God ons plan moet uitvoer nie, maar sodat ons Syne tot volle uitvoering kan bring. Ons verwar egter hierdie twee wanneer pyn ons lewens omvergooi omdat ons nie kry wat ons begeer nie. Alhoewel God altyd by ons, naby ons en aan ons kant is, het Hy nie die wêreld en sy plan met slegs ons in gedagte geskep nie. God het ... die wêreld so liefgehad. Sy planne en doelwitte strek baie verder as ons.
Daar gaan meer "wat as" en ander vrae in jou lewe wees as waarvoor jy antwoorde gaan vind. Soos wat jy egter deur elke vraag na die volgende voortbeur, mag jy miskien nie al die antwoorde hê nie, maar jy sal ons wonderbare God beter ken.
Aangaande hierdie leesplan
Ons almal het al vrae oor God gehad — sommige is beantwoord, en sommige nie. Die waarheid wat ons uit die Bybel leer sal ons help om antwoorde op baie van ons vrae te vind. Die antwoorde wat ons net nie kan kry nie, asook die vrae wat onbeantwoord bly, kan ons as dryfkrag gebruik om God meer intens na te jaag.
More