Hoop: 'n Studie in die SkrifVoorbeeld

Hope: A Study in Scripture

DAG 10 VAN 12

OM TE WAG IN HOOP

Deur Priya Ramsaran

“Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat 'n mens reeds kan sien? Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding” — Romeine 8:24-25 (AFR20).

Het jy al ooit gevoel asof jy geen beheer het oor 'n situasie nie en vrees wou jou oorweldig? 'n Jaar gelede is my pa in 'n koma hospitaal toe gejaag. Ek het geweet dit is regtig erg toe my ma die gevreesde woorde sê: "Dit gaan nie goed met hom nie." My emosies het in opstand gekom in my, en my gebed was: “Here, red hom, asseblief!” 

In die oomblik wat ons 'n krisis, teleurstelling of verlies teëkom, word dit baie duidelik dat ons hoop nodig het — net soos wat ons te midde van die Covid-19 pandemie beleef het. Ons het hoop nodig om aan te gaan en dit waardeur ons nou gaan, te oorkom. Dit is maklik om hoop te verloor as gevolg van ons omstandighede of die gevreesde uitkoms. Ons het nie hoop nodig wanneer dit goed gaan nie, maar eerder wanneer sake moeilik en onseker is.

Ek is mal daaroor dat Paulus eerste vir ons vertel dat ons in hoop verlos is. Ons ewigheid word verseker wanneer ons ons vertroue in Jesus plaas, wat die beste hoop en uitkoms is. Daardie sekerheid gee ons die selfvertroue om enige situasie te hanteer, selfs wanneer angstigheid, eensaamheid of mismoedigheid kop uitsteek. Dit is die grondslag van ons geloof. 

Amper elke oggend gaan my tweejarige buitentoe en tel klippe uit ons voortuin op. Sy stapel dit op in pragtige torinkies. Ons los die torings net daar en hulle word 'n herinnering aan haar teenwoordigheid en handewerk. Net so het ons stapels van hoop in ons lewens nodig. Ons kyk terug na ons verhale van hoop, toe ons groot en wonderlike God ingegryp het in ons lewens, en ons deel hierdie pragtige oomblikke van hoop met ander. Dit bemoedig ander om God se hand in ons lewens te sien, en dit bou hoë torings van geloof. 

Maar wat van daardie onopgeloste sake in ons lewens wat steeds nie 'n antwoord of 'n einde het nie? Hoe moet ons wag en vir hoe lank? Hierdie is die volharding-gedeelte van die vers wat prakties moet raak. Geduld — of volharding — is die vermoë om probleme of lyding te aanvaar, te verdra en uit te stel sonder om kwaad of omgekrap te word. Dit verg oefening en herhaling om dit reg te kry. Geduld is nie passief nie. Ons moet ons oë gevestig op Jesus hou en onsself omring met sy Woord waar ons sy beloftes van hoop sal vind, sodat ons Hom kan vertrou met die proses, ongeag hoe lank dit neem.

Ek het vir maande lank by my pa in die hospitaal gaan kuier. Ek moes beheer oorgee en uiterste geduld beoefen. Toe hy uiteindelik by die huis kom, het ek besef dat hoop groot geloof, geduld en volharding verg. 

Miskien het jy hoop nodig. Moenie moeg word terwyl jy wag nie. Wend jou eerder tot die God van hoop en laat die uitkoms aan Hom oor. Hy sal alle dinge ten goede laat meewerk — op sy tyd en op sy perfekte manier.

Nadenke: Neem tyd om te dink oor oomblikke van hoop wat jy in jou lewe ervaar het en deel dit met iemand.

Maak dit prakties: Is daar 'n situasie in jou lewe waar jy hoop nodig het? Hoe kan jy geduldig wag? Skryf 'n paar verse neer wat jou sal help om sterk te bly staan.

Bid: Vra die Here vir geduld en vir sy krag terwyl jy wag.


Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Hope: A Study in Scripture

1 Korintiërs 13:13 sê: "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!" Geloof, hoop en liefde is dié drie kenmerkende eienskappe van Jesus se volgelinge. Regdeur die Skrif word hierdie drie kenmerke saam gevind. Hierdie 12-dag leesplan vir vroue ondersoek die kern en die lewegewende krag van ons hoop in Christus Jesus.

More

Baie dankie aan Calvary Chapel Fort Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org