Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 10 VAN 21

'n Kerk Wat Nooit Slaap

Deur S. George Thomas

As die seun van 'n pastoor, het Matthew Barnett in en om die kerk grootgeword. Toe hy 16 jaar oud was, het Matthew op die enjinkap van sy motor gesit en God het hom 'n visie gegee om eendag na die middestad van Los Angeles (LA) te gaan en 'n kerk te begin wat 24 uur per dag en 365 dae per jaar oop sou wees — 'n kerk wat nooit slaap nie. Dit het 'n brandende begeerte in Matthew gebring om 'n boodskap van hoop vir mense sonder hoop te bring deur in beide die fisieke en geestelike behoeftes te voorsien van diegene wat in die middestad woon. Hy het egter gedink dit sal waarskynlik nie gebeur voordat hy ten minste 40 jaar oud was nie. Min het hy geweet hoe vinnig God sou beweeg.

Net vier jaar later het sy pa na hom toe gekom en gevra of hy sou belangstel om vir 'n jaar na LA te gaan om 'n klein kerkie in die middestad te bedien. Sy pa het toe reeds 10 ander pastore gevra, maar almal het die geleentheid van die hand gewys. Dit was nie 'n ideale situasie nie — die kerk het net 18 lidmate gehad en het in 'n klein geboutjie vergader, ver vanwaar die meeste mense die kerk bygewoon het — maar Matthew het die posisie gretig aanvaar.

Hy het in Phoenix grootgeword, dus was Matthew se eerste ontmoeting met die middestad van LA 'n totale kultuurskok. Die eerste ding wat hy opgemerk het, was dat hy die enigste wit jong man in die buurt was. Toe hy regtig begin rondkyk, het die mense dadelik in sy hart gekruip. Hy het kinders gesien wat niks of niemand gehad het nie — geen vaders, geen mentors en geen hoop nie. Hulle was altyd op straat omdat daar nêrens anders vir hulle was om heen te gaan nie. God het op daardie oomblik met hom gepraat en vir hom gesê: “As jy die mense bereik in wie niemand belangstel nie, dan sal Ek vir jou die mense stuur wat in almal belangstel.

Met al die bendes, geweld en gebrokenheid om hulle, het Matthew en sy pa besluit die eerste ding wat hulle moes doen voordat die kerk kon groei, was om die mense te help om hul lewens te herbou. Hulle het na die gemeenskap begin uitreik deur kos en klere te voorsien. Hulle het ook 16 ou huise in die omgewing gekoop en dit in huise van genesing verander. Binne een jaar het hulle elke week byna 500 mense bereik. Hul klein kerkgeboutjie kon nie soveel mense akkommodeer nie, dus moes hulle 'n groter lokaal vind.

Eendag toe Matthew op die snelweg ry, het hy die ou Queen of Angels hospitaal gesien. Dit was vir meer as ses jaar reeds vakant en te koop. Die hele kompleks het 110 000 vierkante meter beslaan met 'n totaal van nege geboue en meer as 1 000 kamers. Geleë op 3,6 hektaar, in die hartjie van LA, was hierdie eiendom baie gesog. Die Franciskaanse Susters wat voorheen die hospitaal bedryf het, het reeds talle aanbiedinge ontvang van mense wat belanggestel het om dit te koop, insluitend Paramount Studios wat dit wou gebruik as 'n plek om rolprente te skiet. Matthew en sy pa het die Franciskaanse Susters ontmoet en vir hulle gesê: “Ons het nie baie geld nie, maar ons het 'n droom. En daardie droom is om 'n 24-uur kerk te hê wat 'n plek van toevlug en rehabilitasie vir weglopers, prostitute, straatkinders, hawelose mense en dwelmverslaafdes sal wees. Toe die susters dit hoor, was hulle baie opgewonde en het gesê: “Nou dit is die soort nalatenskap wat ons wil hê! Hoekom maak julle ons nie 'n aanbod nie?” Matthew het hulle R56 miljoen aangebied, en hulle het sy aanbod aanvaar, al het hulle toe reeds nog 'n aanbod vir R227 miljoen gehad.

Hulle het net 18 maande gehad om die R56 miljoen in te samel. Alhoewel hulle nie geld in die bank gehad het nie, het hulle in hul harte geglo dat God die deur oopgemaak het om die hospitaal te koop en Hy sou getrou wees om die finansies te voorsien. Sommer gou het skenkings van kerke en individue regoor die Verenigde State begin instroom, en kort voor lank het die Droom Sentrum sy deure oopgemaak.

In die eerste vier jaar van die Droom Sentrum se bestaan het prostitusie en bendegeweld in die middestad van LA met 73% gedaal, die moordsyfer het met 28% gedaal en verkragtings het met 53% gedaal. Vandag bereik die Droom Sentrum elke week meer as 35 000 mense deur 40 weeklikse dienste en 273 bedienings en uitreikprogramme. Daar woon ongeveer 600 mense wat van die strate van prostitusie en haweloosheid gered is, en die helfte van hulle gaan tans deur dwelm- en alkohol-rehabilitasie. Wat begin het as 'n Godgegewe droom in 'n jong 16-jarige seun se hart, het gegroei tot 'n wonderbare werklikheid. Die Droom Sentrum is 'n kerk wat duisende gebroke mense bereik en aan hulle hoop bied ... 24 uur per dag, 365 dae per jaar. Dit is 'n kerk wat nooit slaap nie.

Tweeduisend jaar gelede het Jesus sy dissipels een van die mees deurslaggewende vrae in die geskiedenis in Matteus 16:13-19 gevra: “'... Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?' Hulle antwoord: 'Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.' 'Maar julle,' het Hy gevra, 'wie, sê julle, is Ek?' Simon Petrus het geantwoord: 'U is die Christus, die Seun van die lewende God.' 'Gelukkig is jy, Simon Barjona,' het Jesus vir hom gesê, 'want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.'" Nie te lank nadat Jesus hierdie verklaring gemaak het nie, is die kerk op Pinksterdag gebore.

Die kerk is nie 'n gebou nie. Ons is die kerk. Ons is geroep om die lewende en dinamiese liggaam van Christus te wees vir 'n wêreld wat verlore is en wat besig is om in die duisternis te sterf. Ons is Christus se hande en voete in die wêreld. Hy leef in ons en werk deur ons. Jesus se werk op aarde het nie geëindig toe Hy opgevaar het hemel toe nie. Dit gaan vandag voort in die lewens van diegene wat in Hom glo, diegene aan wie Hy die werk toevertrou en daarvoor bemagtig het. Die beste manier om sy teenwoordigheid in 'n gebroke wêreld te demonstreer, is deur ons dade eerder as ons woorde. Jesus het gesê dat die wêreld ons sal ken aan ons liefde vir mekaar. Die enigste hoop vir ons om mense vir Hom te wen, is deur buite die vier mure van ons kerkgeboue te gaan, om sy liefde uit te leef en 'n kerk te wees wat 'n lig in die donker skyn — 'n kerk wat nooit slaap nie.

Memoriseer Vers

"Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" (Matteus 28:19–20).

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:15).

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com