Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 15 VAN 21

Getrouheid, Nie Sukses Nie

Deur S. George Thomas

Op die jeugdige ouderdom van 24 jaar, het William Wilberforce, die dapper besluit geneem om homself vir een van die magtigste en invloedrykste setels in die Britse parlement beskikbaar te stel. Na 'n lang en veeleisende veldtog is hy verkies. Om sy oorwinning te vier, het hy besluit om op 'n toer saam met van sy familie en vriende, insluitende een van sy oud-onderwysers, Isaac Milner, deur Europa te gaan. Eendag, terwyl hulle in 'n koets van Nice, Frankryk, na die Switserse Alpe gereis het, het Milner sy voormalige student uitgedaag om 'n Bybel op te tel en dit te begin lees. Daardie uitdaging het die beloop van William se lewe verander.

Gedurende die maande wat hy saam met Milner in die buiteland gereis het, het William die besluit geneem om 'n Christen te word, maar hy het nie gesien hoe — en selfs of — 'n Christen regtig by die politiek betrokke kon wees nie. Hy het verward, afgemat en vol twyfel oor sy toekoms gevoel en gedink hy kan God beter dien as 'n pastoor eerder as 'n politikus.

Omdat hy nie geweet het na wie anders om hom te wend nie, het William raad gesoek by sy vriend, John Newton, 'n voormalige slawe-skip kaptein wat ‘n pastoor geword het en wat bekend was vir die skryf van die gesang "Amazing Grace." Newton het Wilberforce gehelp om te verstaan dat God hom vir 'n betekenisvolle doel geplaas het waar hy was en dat hy 'n verskil kon maak om God te dien deur sy platform in die politiek te gebruik. John Newton het vir hom gesê: “Die Here het jou opgewek tot voordeel van sy kerk en tot voordeel van die nasie.” Wilberforce se lewenslange vriend, William Pitt — die jongste eerste minister in die Engelse geskiedenis — het Newton se raad bevestig en gesê: "Die beginsels asook die praktyk van die Christendom is eenvoudig en lei nie net tot nadenke nie, maar tot aksie." Nadat William lank en volhardend gebid het om te hoor wat God wou hê hy moes doen, het God hom gelei om in die politiek te bly.

Deur die loop van die volgende twee jaar het William geworstel met hoe sy geloof in God, sy roeping as 'n Christen wat by die politiek betrokke is, moet vorm. Hy het tot die besef gekom dat God hom nie gered het net sodat hy nie hel toe sou gaan nie; God het hom gered om in sy koninkryk te dien en dit verder te bevorder. Hoe meer hy die Woord van God bestudeer het en tyd afgestaan het om met John Newton te praat, hoe meer het William 'n verpligting gevoel om sy invloedryke platform te gebruik om standpunt teen sonde, boosheid en ongeregtigheid in te neem. Hoewel William geweldige teenkanting gekry het van diegene saam met wie hy in die parlement gewerk het, het hy 'n lojale groep vriende bymekaar geroep om hulle lewens te verenig en hulle daaraan toe te wy om God se waarheid, geregtigheid en barmhartigheid te bevorder en te vestig deur vir hervorming in die gevangenisse te veg, die pogings van verskeie sendelinge te bevorder en slawerny in die Britse Ryk uit te roei.

William en sy vriende het alles wat hulle gehad het op die spel geplaas — hul loopbane, hul rykdom en hul lewens — omdat hulle passievol geglo het dat diegene wat Christus volg, sy opdrag moet gehoorsaam om sout en lig in die wêreld te wees. Hulle het verstaan dat 'n private geloof wat nooit in die openbaar in werking gestel word nie, glad nie geloof is nie. Hulle het vir meer as vyf dekades saamgewerk, en deur hul gesamentlike pogings en onwrikbare deursettingsvermoë het hulle die gewete van 'n nasie wakker gemaak en die Britse slawehandel heeltemal uit die weggeruim.

Toe William Wilberforce en sy vriende nie onmiddellike resultate vir hul pogings gesien het nie, kon dit vir hulle maklik gewees het om moedeloos te raak en handdoek in te gooi. Hoewel hulle dikwels onsuksesvol was, het hulle geestelike fokus hulle pogings betekenis en doel gegee. Hulle het besef dat God hulle tot getrouheid geroep het, nie sukses nie.

Dink jy eenvoudig net aan jouself en verloor jy moed oor jou persoonlike behoeftes? Of stel jy jou geloof in werking? Om Christus se onderrig te volg en te gehoorsaam, beteken dat ons sy onderrig tot uitvoering moet bring en dit met ander moet deel. Dit beteken dat ek en jy vir verandering in die wêreld verantwoordelik moet wees. Hoe meer ons die diepte van ons eie geloof verstaan, hoe meer word ons gedwing uit 'n lewe van blote nadenke na een van aksie. Ons kan God nie beter leer ken sonder om ook oortuig te word om ander meer lief te hê nie — en om passievol om te sien hoe God se genade, liefde, barmhartigheid, geregtigheid en waarheid regoor die aarde gevestig word. Ons is vrygemaak om ander tot vryheid te help.

Net soos William en sy vriende, is daar talle persone in die Bybel wat hulle posisies van invloed binne die regering en politieke stelsels gebruik het om die doelwitte van God te bereik —Josef, Ester, Nehemia en Daniël, om maar net 'n paar te noem. Het God daardie begeerte in jou hart geplaas? Daar is so baie maniere waarop jy daardie begeerte kan vervul. Jy kan sout en lig wees deur jouself vir ‘n openbare amp beskikbaar te te stel, om 'n kampvegter vir 'n regverdige saak te wees of bloot aan te bied om as raadslid by jou kind se skool te dien. As God jou wel roep om Hom in die politiek te dien, moenie moedeloos raak of ophou nie, dit maak nie saak hoeveel teenstand jy in die gesig staar of as jy geen onmiddellike sukses behaal nie. Onthou dat sukses nie die kriteria is nie; getrouheid is. Uiteindelik kan ons vol vertroue wees dat selfs die moeilikste politieke situasies in die hande van ons oppermagtige God is. Ongeag of God jou roep om Hom te dien deur 'n soort aktiewe betrokkenheid in die politieke omgewing, het elkeen van ons steeds 'n verantwoordelikheid om vir ons verkose amptenare te stem en die Bybel beveel ons uitdruklik om te bid vir diegene wat God in posisies van gesag oor ons geplaas het — pastore, leiers, regeringsamptenare.

Vra die Here om jou te wys of Hy wil hê jy moet 'n verskil maak deur Hom te dien deur een of ander rol in die regering of politiek. Bestee dan vandag tyd om diegene in gesagsposisies oor ons, op te hef deur te bid dat hulle Goddelike wysheid, insig en dapperheid sal ontvang.

Memoriseer Vers

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie" (Matteus 5:13–14). 

Dag 14Dag 16

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:15).

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com