Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 18 VAN 21

Aangeneem

Deur S. George Thomas

Toe Julia Norris 20 jaar oud was, het sy aan "Semester Op See" deelgeneem, 'n program vir universiteitstudente om op 'n skip om die wêreld te reis en weeshuise in verskeie Derdewêreldlande te besoek. Die beelde van die kinders wat Julia in daardie weeshuise gesien het, het nooit uit haar hart verdwyn nie, en God het 'n passie vir weeskinders in haar laat ontstaan.

In die somer van die jaar 2000 het Julia 'n sendingreis na 'n weeshuis in China gelei. Sy het verwag dat haar hart deur al die klein dogtertjies in die weeshuis verower sou word, maar in plaas daarvan, het sy die meeste van haar tyd saam met die ouer kinders deurgebring. Veral een seuntjie het haar aandag getrek. Sy naam was Jiacheng, en sy innemende glimlag het haar hart gesteel. 'n Werker in die weeshuis het aan Julia vertel dat Jiacheng twee jaar tevore onder 'n brug gevind is waar hy rondgedwaal het — verlore, alleen en in totale skok. Die polisie het geprobeer om sy ouers op te spoor, maar kon hulle nie vind nie. Op daardie oomblik het Julia geweet God lei haar om iets te doen om hierdie seuntjie te help, maar sy het nie geweet wat sy kon doen nie.

Met Julia se terugkeer na die VSA, kon sy nie ophou dink aan Jiacheng nie. Sy het die hele tyd aangehou bid en God gevra om haar te wys wat om te doen. Hoewel sy 'n begeerte gehad het om 'n ma te wees, was sy ongetroud, 33 jaar oud, en het altyd beplan om eers te trou. God het haar egter gelei om met ‘n proses van aanneming te begin. Nege maande nadat Julia die eerste keer vir Jiacheng gesien het, is sy aanneming gefinaliseer en het hy amptelik haar seun geword. Sy het sy naam verander na Christian Jiacheng Norris, en hy het na Julia se huis in die klein dorpie Easton, Maryland, naby die Chesapeake-baai verhuis.

Omdat Julia wou hê dat Christian met 'n broer of suster moes grootword, het sy in April 2004 nog 'n kind uit China aangeneem. Hierdie keer was dit 'n dogtertjie wat sy Madison Joy genoem het.

In teenstelling met baie aangenome kinders, het Christian baie herinneringe aan sy geboorte-gesin gehad. Wanneer hy sy herinneringe met Julia gedeel het, het sy dit neergeskryf, ingeval hy dalk eendag na sy familie wil soek. Toe Christian 14 jaar oud geword het, het hy sy ma gevra om hom te help om sy geboorte-ouers te vind. Julia het vir ure navorsing gedoen deur die Internet op soek na leidrade; sy het selfs 'n Chinese prokureur gehuur om die saak te ondersoek.

Nadat sy vir meer as drie jaar lank aan en af gesoek het, het 'n nie-winsgewende organisasie in China, wat Julia met haar soektog gehelp het, haar gekontak om te sê hulle het Christian se geboorte-gesin gevind en ontdek dat sy ouers hom nie doelbewus verlaat het nie. Hulle is eintlik geskei deur 'n tragiese fout toe sy pa hom verloor het terwyl hulle per bus gereis het. Toe Christian se ouers uitvind dat hy nog lewe en in die VSA woon, was hulle verheug. Christian se pa het sy seun om vergifnis gesmeek en gevra om hom te ontmoet.

Julia het nie genoeg geld gehad om haar hele gesin na China te neem sodat Christian met sy geboorte-ouers herenig kon word nie. 'n Anonieme skenker van haar kerk het egter die gesin twee vliegtuigkaartjies gegee, en Julia se baas het 'n derde kaartjie vir Madison gekoop. Die Norris-gesin het op 'n vliegtuig geklim en na Beijing gevlieg om Christian se Chinese ouers te ontmoet. Toe hulle vir Christian sien, het hulle in trane uitgebars. Nadat hulle vir 11 jaar lank gedink het hul seun is dood, het hy nou voor hulle gestaan, gesond en heel. Christian se pa het voor hom gekniel en net gesnik terwyl hy sy seun se hande vasgehou het. Die familie was so dankbaar teenoor Julia vir alles wat sy gedoen het om Christian aan te neem en groot te maak. Oorstelp deur Julia se optrede, het Christian se pa gesê: "Dat 'n buitelander sommer net so al haar onbaatsugtige liefde aan 'n Chinese kind sou wy, is verstommend!”

Julia se onbaatsugtige liefde vir Christian druk God se liefde pragtig vir ons uit. Net soos Julia vir Christian gered het, het God ons gered toe ons alleen was en in duisternis verlore gegaan het, en Hy het ons as sy eie aangeneem. Johannes 1:12 sê: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Efesiërs 1:5 sê: “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.” As mans en vroue wat die beeld van God dra, word ons geroep om sy voorbeeld te volg. Regdeur die Bybel kan jy talle verse vind waar God ons beveel om weeskinders lief te hê en te versorg. Jakobus 1:27 sê vir ons: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.” As weeskinders so duidelik naby aan God se hart is, moet hulle nie ook ons passie wees nie?

Dus, hoe pas weeskinders in by ons roeping as gelowiges om die wêreld met die evangelie te bereik? Wel, as die sendingopdrag daaroor gaan om uit te gaan en die liefde van Christus aan elke man, vrou en kind te demonstreer, dan is weeskinders beslis daarby ingesluit. Statistieke vertel ons dat 5 760 kinders elke dag wees word, en daar word beraam dat daar vandag 143 miljoen weeskinders in die wêreld is. As die liggaam van Christus, gevul met sy liefde, moet ons diegene wees wat die stryd voer om na die weeskinders om te sien.

Nie almal word geroep om kinders aan te neem nie, maar daar is ander maniere om betrokke te raak by die versorging van weeskinders. Jy kan altyd vir weeskinders bid en met jou familie en vriende praat oor maniere waarop jy hulle kan help. Soos die anonieme skenker van Julia se kerk, kan God jou roep om vir diegene wat betrokke is by pleegsorg te bid en finansieel te ondersteun. Hy kan in jou hart werk om deur pleegsorg sy liefde met 'n weeskind te deel, of deur 'n kind uit 'n oorsese land aan te neem of die baba van 'n jong enkelma aan te neem. As jy Hom sal toelaat, sal God jou hart oopmaak vir die kinders regoor die wêreld wat nie ouers het nie en jou wys hoe jy sy liefde aan hulle kan demonstreer. Dank jou hemelse Vader vandag dat Hy sy liefde aan jou betoon het en jou in sy familie aangeneem het.

Memoriseer Vers

"Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God" (Miga 6:8).

Dag 17Dag 19

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:15).

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com