Kom Ons GaanVoorbeeld
Kies My!
Deur S. George Thomas
Voel jy ooit ontoereikend? So asof jy net nie heeltemal opweeg teen ander mense nie? Jy sien ander uitgaan en God se koninkryk bevorder, maar jy dink nie jy het wat dit verg sodat Hy jou kan gebruik nie. Moeder Teresa? Billy Graham? Vir seker. Jy? Nie so seker nie.
Jesaja kon beslis hiermee in Jesaja 6:1-8 identifiseer. Toe Ussia, die koning van Israel, gesterf het, is sy wêreld skielik omvergewerp. Jesaja het grootgeword in en om die koningshuis, en daarom het die nuus van Ussia se dood hom verlore, verward, onseker en hopeloos laat voel. Tog, op hierdie laagtepunt in Jesaja se lewe het God aan hom verskyn.
Jesaja skryf: “In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien sit. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit ...” Dit is 'n ontsagwekkende toneel — God wat op sy troon sit terwyl hemelse wesens van vuur rondom Hom vlieg en uitroep: “'... Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.'”
Van aangesig tot aangesig met die heilige God, is Jesaja oorweldig deur 'n enorme bewustheid van sy eie tekortkominge en ontoereikendheid. Hy roep uit: “'... Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is.'”
Jesaja se reaksie is heeltemal te verstane. Dit is al te maklik om te voel dat ons nie goed genoeg is wanneer ons onsself vergelyk met diegene om ons nie — hoeveel te meer as ons voor God staan! Dit kan wees as gevolg van ons sondes, ons oortredinge of omstandighede uit ons verlede. Die werklikheid is egter, voor God is ons almal in dieselfde bootjie. Voor Hom is alle vergelykings betekenisloos.
Kyk wat gebeur volgende met Jesaja: God stuur 'n engel om 'n gloeiende kool op te tel wat so warm was dat die Bybel sê dat die engel ‘n tang moes gebruik om dit op te tel! Die engel bring toe die kool oor na Jesaja en raak sy mond daarmee aan en sê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” Onmiddellik, terwyl hy nog daar staan en dit alles verwerk, hoor Jesaja God 'n vraag vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?”
Hoe het jy as 'n klein kindjie op skool gereageer as die onderwyser rondgekyk het in die klaskamer en gesê het: "Ek het 'n spesiale taak wat vandag gedoen moet word, en ek is op soek na iemand wat ek kan vertrou om die boodskap vir my af te lewer?" Het jy laer in jou sitplek afgesak en gehoop dat jy nie opgemerk word nie? Of het jy met skaars ingehoue opgewondenheid jou hand reguit in die lug opgesteek? “Kies my! Kies my!”
Dit is presies hoe Jesaja gereageer het. Toe hy die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?", kyk hy nie rond om te sien of iemand anders eerste gewillig sal wees nie. Hy sê nie: “Ek is nie gekwalifiseerd nie.” Hy vra nie eens waarheen hy moet gaan nie. Sonder om te huiwer, spring hy op en roep uit: “Hier is ek! Stuur my!”
Waarom verander Jesaja se gesindheid? Wat veroorsaak dat hy verander van sy verklaring: “Ek is onrein!” om te sê, “Hier is ek! Stuur my!”?
Dit is eenvoudig. Hy is gereinig deur die kooltjie vuur van God af. In God se oë word hy rein verklaar. Al sy twyfel oor homself en vrese oor die toekoms verdwyn in die lig van God se reinigende verlossingswerk in sy lewe.
Nadat Jesus opgevaar het hemel toe, het die dissipels hulle in 'n soortgelyke situasie as Jesaja bevind. Voordat Jesus vertrek het, het hy vir hulle in Handelinge 1:8 gesê: “… en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Maar nou was Jesus — hulle Heer, die een wat hierdie woorde gesê het — weg. Hulle toekoms was onseker. Senuweeagtig, bang en sonder om te weet wat om te doen, het 120 mans en vroue hulself afgesonder in die bovertrek, die deur gesluit en gegrendel.
Tien dae later het alles egter verander. Daardie 120 mans en vroue het uit die bovertrek gekom, gevul met moed en het moedig uitgegaan na die strate van Jerusalem en die boodskap van Jesus verkondig aan almal wat hulle ontmoet het.
Hoekom? Wat het verander?
Dis eenvoudig. Die vuur van God het in tonge op hulle neergedaal, en hulle is vervul met sy Heilige Gees. Al hulle vrese, twyfel, swakhede en onsekerhede het skielik betekenisloos in die lig van God se algenoegsame krag in hulle lewens geword. God het daardie 120 mans en vroue gebruik om 'n vuur aan die brand te steek wat vandag steeds brand.
Moenie toelaat dat jou verlede en huidige foute of omstandighede jou terughou en jou daarvan weerhou om God se oproep te beantwoord nie. Dit gaan nie oor jou en jou vermoëns, sterk punte of kwalifikasies nie; dit gaan oor Hom. Hy het jou verlos. In sy oë is jy rein. Wat God rein noem, kan niemand — nie eens jy — onrein noem nie.
God vra vandag: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Sal jy antwoord en sê: “Hier is ek! Stuur my!”?
Memoriseer Vers
"Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" (Matteus 28:19–20).
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:15).
More