Kom Ons GaanVoorbeeld
God se Volk
Deur S. George Thomas
Ron Hall het grootgeword in Haltom City, net buite Fort Worth, Texas. Nadat hy 'n twee-jaar dienstydperk in die weermag voltooi het, het hy met sy kollege-liefling, Deborah, getrou en sy MBA behaal. Ron het voortgegaan om 'n welgestelde internasionale kunshandelaar te word wat deur die wêreld rondgereis het om miljoen rande se skilderye van Picasso en Van Gogh te koop en te verkoop. Ron en Deborah het die Amerikaanse droom geleef. Deborah het eendag 'n artikel in die koerant oor haweloosheid gelees wat melding van die Union Gospel Mission gemaak het, 'n plek in Fort Worth wat onder hawelose mans, vroue en kinders 'n bediening gehad het. Terwyl Debora oor die bediening gelees het, het sy dadelik geweet God roep haar om betrokke te raak.
Deborah het haar man, Ron, saam met haar gesleep en hul hulp as vrywilligers by die sending aangebied deur elke Dinsdagaand sowat drie tot vier ure lank aandete aan die haweloses te bedien. Deborah het ná hul eerste besoek aan die sending vir Ron gesê dat hoewel die samelewing geneig was om diegene wat haweloos is as slagoffers van hul eie dwaasheid en luiheid te beskou, het sy gevoel dat daar soveel meer aan hulle onder die oppervlak was wat net wag om ontdek te word. Daardie nag het sy gedroom oor die sendinggenootskap, en in haar droom het sy die gesig gesien van 'n wyse man van die Genootskap wat die stad sou verander. Die droom het haar herinner aan 'n vers wat sy eenkeer in Prediker 9:15 gelees het: “In die stad was 'n arm man met baie wysheid, en hy het die stad deur sy wysheid gered ...” Toe sy Ron van die droom vertel het, het hy dit nie bevraagteken nie; Deborah was een van die mees godvresende mense wat hy geken het. Sy het voortdurend tyd in gebed met die Here deurgebring en sy wil vir haar lewe gesoek.
Vir die volgende twee weke het Deborah en haar man Dinsdagaande by die Union Gospel Mission in Fort Worth, hulle dienste vrywillig aangebied. Met 'n ewige glimlag op haar gesig kon almal sien dat sy dit werklik geniet het om by die sending te dien. Wanneer sy gekyk het na die gesigte van die mense wat sy gedien het, het Deborah nie hul haweloosheid gesien nie; sy het net vir Jesus gesien. Sy het 'n poging aangewend om elke persoon te leer ken, hulle op hul voornaam te noem, en het altyd daarop aangedring om te verwys na almal wat na die Genootskap gekom het as "God se volk.”
Op hul derde Dinsdag wat hulle by die missie gedien het, het 'n groot, 60-jarige swart man, geklee in verslete klere, ingekom en geskree en gedreig om wie ook al sy skoene gesteel het, dood te maak. Debora het oorgeleun na Ron en gefluister: “Dis hy! Dit is die man wat ek in my droom gesien het … Die een wat die stad gaan verander.” Ron het haar in ongeloof aangekyk terwyl sy verder gesê het: “En ek dink regtig God sê vir my dat jy na hom moet uitreik.”
Nadat hy rondgevra het, het Ron ontdek die man se naam is Denver en dat hy elke Dinsdag na die Genootskap gekom het. Elke keer as Debora hom bedien het, het sy hom in die oë gekyk en gesê: “Denver, God het 'n roeping vir jou lewe.” As Denver haar gewaarsku het om nie met hom te mors nie omdat hy 'n gemene man was, het Deborah geantwoord: “Jy is nie 'n gemene man nie, en ek wil nooit hoor dat jy dit sê nie!” Denver wou alleen gelaat word en het haar begin vermy. Dit maak nie saak hoe hard hy probeer het nie, hy kon Deborah nie laat ophou om met hom te praat nie.
Na 'n paar maande se vrywillige werk wou Deborah meer hê as om net die haweloses te voed. Sy wou sien hoe lewens verander en gebroke harte genees word. Terwyl sy ernstig gepeins het om uit te werk hoe sy 'n bietjie vreugde in hierdie mense se lewens kon bring, het sy besluit om vir die dames 'n aand van skoonheidsversorging aan te bied waar sy en 'n paar ander vrywilligers die hawelose vroue met manikure, pedikure, gesigsbehandeling en nuwe voorkomste kon pamperlang. Dit het gelei tot rolprentaande en daarna verjaardagaande. Intussen het Denver die Halls se optrede dopgehou. Mettertyd het hy tot die gevolgtrekking gekom dat hulle werklik 'n gawe paartjie was wat ernstig was om mense te help.
Op Deborah se aandrang het Ron Denver vir ontbyt genooi, en tot sy verbasing het Denver aanvaar. Terwyl die twee mans ontbyt geëet het, het Denver reguit vir Ron gevra: "Wat wil jy van my hê?" Ron was vir 'n sekonde uit die veld geslaan, maar toe besluit hy om reguit te wees, en hy het geantwoord: "Ek wil net jou vriend wees." Denver was vir 'n oomblik stil, maar toe sê hy uiteindelik: "Laat ek daaroor dink.”
Dit was nie onmiddellik nie, maar uiteindelik het 'n ware, blywende vriendskap tussen Ron, Deborah en Denver begin blom. Hulle het begin om saam te kuier. Die Halls het Denver selfs gehelp om sy rybewys te kry. Deur op 'n misterieuse en wonderbaarlike manier te werk, het God die vriendskap tussen Denver en die Halls gebruik om elkeen van hulle nader aan Hom te bring en om in en deur hul lewens te werk om talle ander te bereik. As gevolg van hul verhaal en 'n reeks omstandighede wat God gereël het, is meer as R7,6 miljoen ingesamel vir 'n nuwe sendingfasiliteit genaamd "New Beginnings", en Deborah se droom hoe God 'n man van die missie sou gebruik om die stad te verander, is vervul.
Die Bybel is duidelik daaroor dat wanneer ons verder as die omvang van ons selfsugtige aard gaan en na diegene in nood uitreik, beskou Jesus ons optrede asof ons dit vir Hom doen. Deborah Hall het hierdie konsep werklik begryp, en alhoewel hy aanvanklik 'n bietjie huiwerig was, het haar man, Ron, dit ook begryp. Hulle het uit hul gemaksone gestap om uit te reik na individue op wie die wêreld hul rug gekeer het — die wat honger, dors, haweloos, siek en eensaam is ... diegene na wie Jesus verwys het as "die geringste van hierdie broers van My." Hulle het toegelaat dat hulle harte verandere word deur die behoeftes om hulle, en hulle het gekies om elke persoon wat hulle as 'n kind van God teëgekom het, raak te sien.
Sal jy vir God vra om jou te help om diegene om jou te sien met sy oë?
Memoriseer Vers
"Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring? En hoe sal hulle die boodskap bring as hulle nie gestuur word nie? Daarom sê die Skrif: 'Hoe lieflik klink die voetstappe van hulle wat die Goeie Boodskap bring!'" (Romeine 10:14–15 NLV).
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 21-dag leesplan van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Markus 16:15).
More