Boodskappe uit die Hemel: Luister na die Here in jou Daaglikse LeweVoorbeeld
Jou hemelse Vader weet wat jy alles nodig het.
Sagkens gestel, dit was moeilik om in Nairobi groot te word. Die 1990's het heelwat onsekerhede ingehou. Onluste het algemeen voorgekom as gevolg van die onenigheid tussen die regerende party en diegene wat ’n veelparty-demokrasie geëis het. In tye van oproer is dit altyd die armes wat die meeste ly. Die armes is afhanklik van ’n karige inkomste om in hul daaglikse behoeftes te voorsien, en sulke onenigheid veroorsaak dat die behoeftiges net meer ly.
As gevolg hiervan is ek van jongs af deur omstandighede gedwing om te leer hoe om te wag.
Wanneer daar geen versekering van 'n positiewe uitkoms is nie, kan die wagtyd uiters moeilik wees. My pa was 'n loonwerker, ons was derhalwe afhanklik van sy daaglikse inkomste om in ons basiese behoeftes te voorsien. As hy werk gekry het, het ons geëet. As hy gesukkel het om werk te kry, het ons nie geëet nie.
My pa het een aand tydens ons huisgodsdiens Matteus 6:25-34 vir ons gelees. Hy het daarop gewys hoe belangrik dit is om ons hoop op Jesus te vestig. Daardie woorde van Jesus het my hoop te midde van die lewe se onsekerheid gegee. As ’n gesin het ons berusting gevind in die wete dat ons hemelse Vader weet wat ons alles nodig het. Om Jesus te ken en te hê, was vir ons genoeg.
Ons Vader in die hemel ken al ons behoeftes. Hoe wonderlik is dit nie? Die God wat alles geskep het, is dieselfde God wat op ’n unieke wyse in ons behoeftes voorsien.
Dit is maklik om te twyfel dat Hy sal voorsien. Wat sal gebeur as Hy nie uitkoms vir my finansiële verknorsing bied nie? Vir my gesondheid? Vir my gesin? Vir [vul jou eie bekommernisse in]? Leer om op die Here te vertrou, ongeag wat jou bekommernisse mag wees. Verbind jou daartoe om die Woord van God daagliks te lees en te volg terwyl jy op God se antwoord wag.
Deur te wag, word ons hoop sterker gemaak. As God se kinders wag ons op 'n getroue en liefdevolle God wat behae daarin skep om in die behoeftes van sy kinders te voorsien. Bid tot jou Verlosser: "Liewe Here, as u kind is ek geneig om my oor my toekoms te bekommer. Maar vandag stel ek my hoop op U omdat U die getroue onveranderlike in my lewe is. Amen."
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Here is vandag lewendig en aktief en Hy praat direk met elkeen van sy kinders. Soms is dit egter moeilik om Hom te sien en te hoor. Deur hierdie verhaal van een man se reis om die stem van God in die arm woonbuurte van Nairobi te verstaan, sal jy leer hoe dit lyk om Hom te hoor en te volg.
More