'n Vrou Van betekenis: Ken Jou Identiteit In God Voorbeeld
Ware Skoonheid
God is 'n meester in alles wat Hy doen, en Hy het ten volle uitgebeeld hoe onbeskryflike briljant Hy is toe Hy jou geskep het! Hy het jou met drie dele geskep — 'n liggaam, 'n gees en 'n siel. Elke een van hierdie fantastiese dele is van uiterste belang.
Jou liggaam, my vriendin, is net die houer van wie jy is. Jou liggaam definieer nie wie jy is of wat jou bestemming of waarde is nie. Die wêreld beoordeel dalk jou liggaam, maar dit is omdat die wêreld net na jou uiterlike kyk. Die wêreld sien nie wat God sien nie!
Jou gees is die deel van jou wat God se DNS weerspieël, en dit is waar sy seën oor jou buitengewone lewe is. Jou gees is die deel van jou wat God se stem hoor en gewillig doen wat Hy sê. Jou gees is die komponent van jou waar God se koninkryk gestig word, die vrugte van die gees gekweek word en waardeur jy in geloof wandel, nie deur te sien nie. Jou gees moet die kragtigste deel van jou wees terwyl jy deur die wêreld reis.
Jou siel is die derde deel wat God geskep het. Jou siel sluit jou gedagtes, jou wil en jou emosies in. Jou siel is leeg, totdat jy dit met iets volmaak. Van die begin van alle tye was dit God se doel dat jy jou siel met Hom vul! Dit is nog altyd sy doel dat jy, wat as sy Goddelike beeld geskep is, nabyheid met Hom sal kies bo nabyheid met die wêreld. Dit was ook sy hartsbegeerte dat jy die leë stukke in jou siel sal vul met alles wat Hy vir jou bied.
Ware skoonheid skyn vanuit 'n vrou se siel. Die hartseer deel van ons bestaan is dat ons ons vul met die wêreld se waardes en 'n kultuur wat nie God en sy Woord as prioriteit stel nie; en ons glo hierdie verregaande leuen dat God nie genoeg is nie. Ons stel ons hoop in klere, mans, bankbalanse, vermaak en verslawings om die leë dele in ons siele vol te maak. Jy sal nooit verstaan hoe God jou, die ware jy, sien of word wie Hy jou gemaak het om te wees, as jy sinneloos jou siel met gemors vul in plaas van met skatte uit die hemel nie.
God het vir jou 'n siel gegee sodat jy 'n vrou kan wees wat 'n Goddelike bestemming en selfversekerde identiteit het. God het vir jou 'n siel gegee sodat jy geloof, hoop, vrede en geregtigheid in oorvloed kan versprei. God het vir jou 'n siel gegee wat floreer wanneer jy tyd saam met Hom deurbring. Jou lieflikheid moes nog nooit van jou uiterlike gekom het nie; jou ware skoonheid moet nog altyd 'n beeld wees van jou intieme verhouding met jou Vader.
Aangaande hierdie leesplan
Ons fisieke kenmerke en ons vaardighede is nie die wese van wie ons is nie en moet nooit die finale stem wees wat ons definieer nie. Ons moet ontdek wat God sê ons waarde en ware potensiaal is. As 'n vrou van betekenis word jy bemoedig om te aanvaar wie God sê jy is! Die kragtige waarheid van jou identiteit is die volgende: Jy sal nooit weet wie jy is totdat jy weet wie jy in God is nie.
More