Die PriesterskapVoorbeeld

Die Priesterskap

DAG 1 VAN 8

PRIESTERS EN LEVIETE

Terwyl ons oor die tabernakel nadink, het ons nodig om stil te staan by die mense wat deur God afgesonder is om in die tabernakel te bedien: die priesters en die Leviete. God het ’n man afgesonder wat Hy tot ’n groot volk gemaak het, Abram, later hernoem “Abraham”. Die naam van die volk wat uit hom gebore is, is Israel. Hulle sou sy eiendomsvolk uit al die volke wees, ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie (Eks 19:5-6). Uit hierdie volk het die Here een stam afgesonder, die stam van Levi, om in ’n letterlike sin vir Hom ’n priesterlike geslag te wees. Uit die stam van Levi het God een huis afgesonder, die huis van Aäron, om vir Hom die priesteramp te beoefen. “Dan moet jý jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron” (Eks 28:1). Aäron, die hoëpriester, en sy vier seuns was dus die eerste priesters. Daarna, deur die jare heen, het die afstammelinge van die huis van Aäron as priesters opgetree. Die oudste seun van die vorige hoëpriester het altyd sy plek geneem. Die Hebreeuse woord vir “priester” kan ook vertaal word as bedienaar.

Die amp van die priesters was drievoudig. Ten eerste moes hulle in die tabernakel bedien. Hulle moes dus offerrook laat opgaan op die brandofferaltaar en op die reukofferaltaar, en was verantwoordelik vir al die werke in die heiligdom en in die Allerheilige.

Tweedens moes hulle die volk leer of onderrig aangaande hul verpligtinge teenoor God. “Want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ’n boodskapper van die HERE van die leërskare” (Mal 2:7). Dit is nie toeval dat die naam Aäron “verlig” of “ingelig” beteken nie – die een wat lig ontvang, deur God verlig word, om lig dan met ander te deel.

Derdens, was dit die taak van die priesters om die volk te seën. “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê: Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën” (Num 6:22-27).

Die priesters was dus die geestelike leiers en leraars van die volk van God, en die geestelike vooruitgang van die volk het van hulle gehoorsaamheid en getrouheid aan hulle hoë roeping, afgehang.

Al die nakomelinge van Levi was gebore Leviete, behalwe, soos reeds gesê is, die huis van Aäron, wat die hoë amp van priesters beklee het. Behalwe Aäron die hoëpriester was daar in die begin dus net vier priesters – die vier seuns van Aäron. Maar al die geteldes van die Leviete, almal wat manlik was, van ’n maand oud en daarbo, was twee-en-twintig-duisend; en die dienspligtiges onder hulle, van dertig jaar oud en daarbo tot vyftig jaar, was agt-duisend-vyf-honderd-en-tagtig. Van hulle, lees ons, sê die Here: “maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en hulle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word” (Num 1:50-51). 

Die hele stam van Levi is aan die priesters gegee (die huis van Aäron) vir die doel om hulle te assisteer in hul heilige werksaamhede. Die Leviete, behalwe in ’n absolute noodgeval, is nie toegelaat om enige priesterlike taak te vervul nie. Hulle is nie toegelaat om offers te bring, bloed te stort of te sprinkel nie, ook nie reukwerk op die reukaltaar te plaas of enige werk in die heiligdom te doen nie; nogtans kon hulle baie behulpsaam wees as dienaars vir die priesters in die uitvoering van hul take.

Een uitsonderlike geval van waar die Leviete die priesters behulpsaam was, was toe koning Jehiskía die tempel laat reinig het en die priesters die heilige gawes, seshonderd beeste en drieduisend stuks kleinvee, moes offer (2 Kron 29:33). Ons lees in die Bybel: “Net die priesters was te min en kon nie al die brandoffers afslag nie; maar hulle broers, die Leviete, het hulle ondersteun, totdat die werk klaar was en totdat die priesters hulleself geheilig het; want die Leviete was opregter van hart om hulleself te heilig as die priesters” (2 Kron 29:34).

Die verskeidenheid van take ten opsigte van die tent van samekoms, die tabernakel, was heeltemal te oorweldigend vir Aäron en sy seuns om te vervul; selfs die voorbereiding van die offers vir die brandofferaltaar het baie fisieke arbeid geverg wat die priesters nie alleen in staat was om te volbring nie. Daarom het die Here God aan die priesters, hul broers, die Leviete gegee om hulle in al hul take te ondersteun. Die Leviete was altyd byderhand om, in watter opsig die priesters ook al hulp nodig gehad het, hulle by te staan.

Ten spyte van al hul sondes en tekortkominge het die priesters en Leviete, tot op die tyd van onse Here Jesus Christus, die Heilige Skrifte bewaar en in die tempel en sinagoges die Skrifte gelees en aan die volk van die Here verklaar. Baie van die priesters en Leviete het hul take teenoor God en die Hebreeuse volk volbring om aan die Here God heerlikheid te bring.

Voorts sien ons Levi het drie seuns gehad: Gerson, Kehat en Merári. Daar was dus drie geslagte onder die Leviete en elkeen se dienswerk word duidelik aangewys in die vierde hoofstuk van Númeri:

  • die seuns van Kehat (Num 4:2-20; 3:30-31);
  • die seuns van Gerson (Num 4:22-28; 3:25-26); en
  • die seuns van Merári (Num 4:29-33; 3:36-37).

In Númeri 18 word die werk van die priesters, in teenstelling met die van die Leviete, sowel as albei se voorsiening in hul lewensonderhoud, beskrywe. Dié hoofstuk toon aan ons die wedersydse verhouding tussen die priesters en die Leviete.

Wat die huis van Aäron betref, hy en sy seuns moes die priestersamp waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die voorhangsel is (Num 18:7). Hulle moes dus die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem (Num 18:5).

Wat die Leviete betref, die stam van Levi (Kehatiete, Gersoniete en Merariete) moes hulle die dienswerk van die hele tent waarneem, al die dienswerk van die tent (Num 18:2-4,6). Die taak van die Leviete was beperk tot die diens van die tabernakel (Num 3:6-9).

In teenstelling met die Leviete het die priesters dus toegang gehad tot die Heilige, “die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word” (Num 3:10).

Wat die inkomste van die priesters en die Leviete betref, sien ons die volgende:

Aan die priesters word toegeken “die heilige gawes” (Num 18:8), ’n deel van die spys-, sond- en skuldoffers (vers 9-10); die heffing van die beweegoffers (vers 11); die beste van die olie, mos en koring (vers 12); die eerstelinge van die land (vers 13); alles wat onder die ban is (vers 14); die eersgeborenes van die rein diere (vers 15, 17-18); die losprys van die eersgeborenes van mense en die onrein diere (vers 15-16); die tiende van die tiendes (vers 25-32).

Wat die inkomste van die Leviete betref, dit het bestaan uit die tiendes van die volk (vers 21-24, 30-31). Hulle moes ’n tiende van die tiende wat hulle ontvang het aan die priesters afstaan (vers 26).

Vervolgens gaan ons môre na die hoëpriesteramp van Aäron en Jesus Christus kyk.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Die Priesterskap

Tot hiertoe het ons die tabernakel bestudeer in verhouding tot sy struktuur en meublement (huisraadstukke) met die beklemtoning van die waarheid dat God na die mens toe gekom het. In hierdie leesplan gaan ons die priesterskap bekyk met die klem op die mens se toetrede tot die teenwoordigheid van God.

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/