'n Sewe-dag Gids oor GebedVoorbeeld
Dink weer oor gebed
Gebed is om jouself in die hande van God te plaas. — Moeder Teresa
Baie volgelinge van Christus sukkel om 'n betekenisvolle gebedslewe te hê. Dit kan vir ons moeilik wees, want dit is maklik om slegs op gebed in plaas van God te fokus. Om 'n ongelooflike gebedslewe te hê, is nie die doel nie. Jy moet kontak maak met God en nader aan Hom groei.
Miskien klink hierdie voorbeeld bekend: ons begin bid as die lewe moeilik raak. Dan word die lewe makliker, en ons bid nie so baie nie, omdat ons God nie soveel nodig het nie. Wanneer iets moeiliks egter oor ons pad kom, weet ons dat ons daaroor moet bid. Ons voel skuldig daaroor omdat ons 'n ruk lank nie gebid het nie, en ons aanvaar dat God kwaad vir ons is.
Dit is tyd om weer oor gebed te dink.
Laat ons dink aan gebed deur ons naaste verhoudings in gedagte te hou. Dit kan 'n broer, ons eggenoot of 'n beste vriend wees. Ons kommunikasie met hulle is maklik en natuurlik. Ons kan 'n sms stuur, 'n telefoonoproep maak of persoonlik saam met hulle gaan kuier. Soms kuier ons lank en ander kere stuur ons net kort boodskappe. Ons begin gewoonlik nie die gesprek met hierdie persoon op dié manier nie: “Beste Jenny, dankie dat jy my oproep vandag beantwoord het. Ek is opgewonde om met jou te praat. Kom ons bespreek ...” In plaas daarvan het ons hierdie aaneenlopende gesprek wat geneig is om net oor te loop na die volgende een.
As ons gebed hanteer soos ons die verhouding met dié naaste aan ons hanteer, sal gebed ineengestrengel raak met alle areas van ons lewens. Dit sal die dele weer verbind wat ons van God geskei het. Dit sal 'n voortdurende gesprek wees wat ons met Hom het — gevul met oomblikke van dankbaarheid, om vir ander te bid en selfs om ons frustrasies te deel. As hierdie gesprek aaneenlopend is, is dit dan werklik nodig om ooit “amen” te sê?
Dit beteken nie dat ons Hom nie die eer bewys wat Hy waardig is nie. Ons spreek Hom nie as volg aan nie: "Hi tjom ... wat is nuus?" Nee, ons leef 'n lewe waarin Hy vereer en aanbid word, en sodoende is ons ontmoetings met Hom baie meer opreg. Hy gee minder om oor ons woorde aan Hom en meer om oor die ingesteldheid waaruit die woorde gebore is.
Ons verhouding met God sal groei namate ons daarna streef om 'n voortdurende gesprek met Hom te hê. Beide kort en lang gebede het hul plekke. Ons kan egter nie verwag om God te leer ken deur elke oggend vyf minute aan Hom af te staan nie. Ons moet Hom in ons daaglikse lewens inbring en toelaat dat Hy sy vrede, hoop, vertroosting en leiding in elke opsig inbring.
Dit is tyd om weer oor gebed te dink.
Nadenke
- Is jy geneig om net een keer te bid of praat jy regdeur die dag met God?
- Wat kan jy vandag begin doen om 'n voortdurende, daaglikse gesprek met God te voer? (Herinnerings, alarmseine, bid elke uur?)
- Skryf enige openbaring neer wat God deur vandag se Skrifgedeeltes of oordenking aan jou bekendmaak.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer ons aan die woord "gebed" dink, het ons moontlik 'n idee wat dit behels. Heel moontlik het jy al vorige ondervinding van gebed, ongeag jou agtergrond. In hierdie 7-dag leesplan gaan ons dieper delf in wat gebed behels en hoe ons sekere aksies 'n deel van ons dag kan maak, wat ons sal help om 'n deurlopende gesprek met God te hê — vir die res van ons lewens.
More