Skutrelings: Hoe Om Spyt In Jou Lewe Te VermyVoorbeeld
Wanneer jy aan finansiële skutrelings dink, dink jy dalk daaraan om skuldvry te lewe. Dit is goed om uit die skuld te bly, maar volgens Jesus, kan jy geen skuld én baie geld in die bank hê en nogtans in 'n finansiële verknorsing wees. Interessant, nie waar nie? Hou aan lees.
In vandag se verse uit Matteus, sê Jesus dat ons almal deur iemand of iets beheer (of besit) word. Hy gee ons dan twee onverwagse opsies: God of geld. Die meeste van ons sou verwag dat Hy sê ons kan óf God óf die Satan dien. Jesus sê egter dat sy grootste mededinger geld is.
Hy stel hoofsaaklik hierdie vraag: Besit ons geld of besit geld vir ons?
Sonder finansiële skutrelings, sal die meeste van ons in een van twee verknorsings beland. Ons sal óf oorbestee óf ons sal aanhoudend wil spaar. Die een is 'n onbeteuelde begeerte: om te koop, op te gradeer, te vervang. Die ander is 'n onbeteuelde vrees: Wat as ek nie genoeg het nie? Wat as dit met my gebeur?
In beide gevalle, besit geld vir ons. Ons jaag daarna sodat ons alles nou kan opgebruik. Andersins jaag ons daarna sodat ons dit kan spaar om moontlik later te gebruik.
Ons het 'n finansiële skutreling nodig waarin God ons Meester is. Dit is ook presies wat ons aan die einde van 'n lang gesprek oor ons lewensopvatting oor geld in Matteus 6:33a kry. Dit is net hierdie woorde: "beywer julle allereers vir die koninkryk van God."
In God se koninkryk word ander eerste gestel. Die woorde wat ons gister gebruik het, kom hier ter sprake: in God se koninkryk, is dit wat die beste vir ander mense is, die beste. Die skutreling wat sal verhoed dat ons in die verknorsing van oorbesteding of té spaarsamig beland, is om ander eerste in ons finansies te stel.
Gee eerstens aan ander. Spaar tweedens vir jou toekoms. Leef dan van die res.
Gee eerstens. Spaar tweedens. Leef van die res.
Die goeie nuus oor hierdie skutreling is: dit kan outomaties wees. Sodra jy 'n organisasie of saak geïdentifiseer het waarvoor jy omgee en 'n stelsel in plek gesit het om gereeld te gee, sal hierdie skutreling jou finansies sonder enige bykomende moeite op koers hou.
Aangaande hierdie leesplan
Skutrelings word opgerig om te voorkom dat ons voertuie in gevaarlike of verbode gebiede ry. Dikwels sien ons hulle nie totdat ons hulle nodig het — en dan is ons dankbaar dat hulle daar is. Wat as ons skutrelings in ons verhoudings, finansies en loopbane gehad het? Hoe sou hulle lyk? Hoe kan hulle ons teen toekomstige berou beskerm? Oor die volgende vyf dae gaan ons kyk hoe jy persoonlike skutrelings kan opstel.
More