Skutrelings: Hoe Om Spyt In Jou Lewe Te VermyVoorbeeld
Ons almal ken iemand, is iemand, of sal iemand grootmaak wie se lewe heeltemal anders sou gewees het indien hul skutrelings gehad het om oor hulle sedelikheid te waak.
Dit is nie die gewilde keuse nie. In werklikheid, op geen ander gebied as wanneer dit by morele grense kom, lok ons kultuur ons so uit tot op die randjie nie (en dan word ons getugtig en staan ons beskaamd wanneer ons aanjaag). Ons kyk na rolprente, luister na liedjies en lees boeke wat seks buite die huwelik ophemel. Ons vermaak onsself gedurig daarmee. Wanneer dit egter werklik gebeur ... wanneer iemand wat ons ken, in 'n buite-egtelike verhouding betrokke raak, is ons geskok.
'n Billike waarskuwing is dus: ons samelewing sal jou pogings teëwerk om morele skutrelings te vestig. In vandag se verse verduidelik die apostel Paulus egter waarom dit so belangrik is.
Hy sê dat seksuele losbandigheid op 'n unieke manier skade aanrig. Hy plaas dit eintlik in 'n kategorie van sy eie, deur te sê: dan "sondig jy teen jou eie liggaam" (1 Korintiërs 6:18b NLV). Met ander woorde, dit is sleg vir die ander persoon wat betrokke is en dit is sleg vir jou. Boonop sal jy nooit die gevolge ontduik nie. Jy kan ten volle finansieel herstel. Jy kan ten volle akademies herstel. Wat seksuele sonde egter betref, is dit heel anders. Vergewe? Beslis. Dit het niks te doen met God wat jou aanvaar en liefhet nie. Dit is net dat daar met seksuele sonde geen herstel is nie.
Wat is Paulus se raad dus? "Vlug ..."
Is dit nie wat elke man wil hê sy vrou moet doen nie? Wat elke vrou wil hê haar man moet doen nie? Wat elke broer wil hê sy suster moet doen nie? "Vlug van seksuele losbandigheid."
Hoe rig ons 'n persoonlike skutreling op? Kom ons kyk hoe Jesus sonde omskryf het, dan sal ons sien hoe dit op seksuele sonde van toepassing is. Gedurende sy hele bediening, was Jesus se onderrig dat wat die beste vir ander is, die beste is. Sonde is dus enigiets wat hieraan tekortskiet. Elke keer wanneer ek my belange bo jou belange tot jou nadeel stel, is dit sonde. Elke keer wanneer jy jou belange bo myne tot my nadeel stel, is dit sonde.
Die skutrelings vir ons seksualiteit behoort ons dus daarvan te weerhou om enigiets te doen wat nie die beste vir die ander persoon is nie. Sal dit hulle 'n gevoel van skaamte gee? Sal dit 'n geheim word wat hulle vir die res van hul lewens met hulle moet saamdra? Sal dit hul toekomstige verhoudings ondermyn? Doen dan wat Paulus sê: "vlug."
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Skutrelings word opgerig om te voorkom dat ons voertuie in gevaarlike of verbode gebiede ry. Dikwels sien ons hulle nie totdat ons hulle nodig het — en dan is ons dankbaar dat hulle daar is. Wat as ons skutrelings in ons verhoudings, finansies en loopbane gehad het? Hoe sou hulle lyk? Hoe kan hulle ons teen toekomstige berou beskerm? Oor die volgende vyf dae gaan ons kyk hoe jy persoonlike skutrelings kan opstel.
More