Versekering: deur Myself of God? Deur Robin MeadowsVoorbeeld

Affirmation: Self Or God? By Robin Meadows

DAG 4 VAN 6

SELFVERSEKERING: 

“Ek is die skrywer van my eie lewensverhaal. Ek bepaal my eie bestemming.”

Glo jy regtig dat dit eens moontlik is?

Wat van diegene wat geen keuse gehad het in die verloop van hul lewens nie? Ek ken mense wat baie swaar gekry het toe hulle kinders aan die dood moes afstaan. Ek ken ander wat tans erge liggaamlike siekte en pyn ervaar. Ek het 'n pad gestap saam met mense met gebroke huwelike as gevolg van verwerping of 'n maat wat nie kans sien om deur moeilike omstandighede vas te byt nie. 

Hierdie gebeure was nie hul keuse, begeerte of plan vir hul lewens nie. Hulle omstandighede is nie 'n verhaal wat hulle vir hulself sou skryf of 'n bestemming wat hulle vir hulself sou kies nie. Daar is niks wat hulle kan doen om beheer oor hul eie probleme te kry nie.  

Waaroor hierdie wonderlike vriende wel beheer gehad het, is hul gesindheid en siening terwyl hulle deur hierdie moeilike tye gegaan het. Gesindhede en ons pogings is die enigste dinge in die lewe wat ons kan beheer.

Elkeen van ons is in die proses om te word wat ons moet wees. Ons is in wording terwyl ons nader aan ons eindbestemming en roeping in die lewe beweeg. As ons glo dat ons deur 'n liefdevolle Vader geskape is, kan ons ook glo dat Hy ons deur alles sal dra, dit maak nie saak hoe moeilik die omstandighede is nie. Wanneer ons ons harte tot Hom keer en Hom toelaat om in ons te werk, maak Hy die werk klaar. Wat Hy doen is altyd goed, want Hy is 'n goeie en getroue God. 

Efesiërs 2:10 sê: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” 

Jy kan sekerlik probeer om die skrywer van jou eie lewensverhaal te wees — as jy alleen is, jou eie verhaal skryf, jou eie weg vind en 'n totaal onafhanklike lewe lei. Selfs dan kan jy egter teleurgestel word deur lewensomstandighede wat buite jou beheer is. 

Hoekom sal ons ooit probeer om ons eie weg te vind — ons eie onbekende bestemming te bepaal — as ons Iemand kan volg wat Homself Die Weg noem? 

Hy het 'n waardige bestemming wat net vir jou beplan word. Sal jy Hom dag vir dag volg en dit saam met Hom ontdek? 

“... Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is” Filippense 3:12–13.

GOD SE VERSEKERING:

“Ek hoef nie my eie verhaal te skryf nie, want dit word geskryf deur die Outeur van die Lewe!”

Oorweeg om vandag se Skrifgedeeltes met ander Bybelweergawes te vergelyk. 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Affirmation: Self Or God? By Robin Meadows

Selfbemagtiging en persoonlike ontwikkeling is vandag algemene konsepte in ons kultuur. Om bewus te wees van die self, om verantwoordelik te wees en om jou sterk punte en swakhede te ken is 'n pluspunt in die lewe. Kan hedendaagse selfversekering egter net ver genoeg van die waarheid wees dat dit jou keer om die lewe te leef wat God vir jou beplan het? In hierdie 6-dag leesplan deur Robin Meadows gaan ons die Skrif bestudeer om die waarheid te onthul.

More

Ons wil graag Robin Meadows bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asb: http://instagram.com/manymeadows