Die Goeie WerkVoorbeeld

Om Opposisie van Buite in die Gesig te Staar
Jy gaan opposisie in jou lewe teëkom. Bemoedigend, nie waar nie? As Christene moet dit ons egter nie verbaas nie. Ons is nooit 'n gemaklike, sorgvrye lewe belowe nie. Instede word ons 'n lewe beloof wat deur probleme, struikelblokke en lyding gekenmerk word. Wat gebeur wanneer ons besluit om God se werk na te streef? Dan is die opposisie geneig om toe te neem.
Nehemia se werk was geensins anders nie. Twee mans — Sanballat en Tobija — was gekant teen die werk wat hy gedoen het. Eers het hulle probeer om hom te spot deur die kwaliteit van sy werk te verkleineer. Toe Nehemia nie toelaat dat dit hom keer nie, het hul teenkanting toegeneem, en hulle het beplan om almal aan te val en dood te maak wat aan die muur gewerk het.
Nehemia kon Sanballat en Tobija in eie munt terugbetaal het deur hulle te beledig en weg te jaag met sy eie vertoon van krag. Hy kon hul dreigemente as 'n teken van God aanvaar het dat hy in groot moeilikheid was en weghardloop terwyl hy nog die kans gehad het. Hy het egter nie.
Wat het Nehemia gedoen? Wat moet ons doen as ons opposisie ondervind teen die werk wat God ons gegee het?
Eerstens bid ons. Nehemia bid twee keer in hoofstuk vier — een keer na die aanhoor van Sanballat en Tobija se bespottings, en weer nadat hy gehoor het van hul komplot om teen Jerusalem te kom veg. Ongeag watter soort teenkanting jy in die gesig staar, die regte eerste stap is om God om hulp te vra.
Tweedens hou ons ons oë op die wenstreep. Nehemia het nie met Sanballat en Tobija in gesprek getree nie. Hy het voortgegaan met die werk wat God hom gegee het. Moenie deur die opposisie afgelei word nie — sodra jy met God se werk begin het, hou daarby.
Derdens werk ons saam. Nehemia het nie die muur op sy eie herbou nie. Tientalle mense het saam met hom gewerk. Saam kon hulle die nodige voorsorg tref om al die Jode in Jerusalem veilig te hou. Net so sal God ons amper altyd vennote gee om te help met die werk wat ons vir Hom doen. Steun op mekaar as julle teenkanting ervaar. Julle is sterker saam.
Bid: Vra vir God om jou te lei in tye van opposisie en jou te wys hoe om die stryd wat jy ondervind te hanteer.
Aangaande hierdie leesplan

Dis dalk nie vir jou moontlik om die hele wêreld te verander nie, maar jy kan jóú deel daarvan verander. Wat is jou doel? Wat is jou verhaal? Wat wil God deur jou doen? Vind uit deur Nehemia se ondervindinge in hierdie nuwe Life.Church leesplan, wat pastoor Craig Groeschel se boodskapreeks, Die Goeie Werk, vergesel.
More