Ontvang krag in die teenwoordigheid van God Voorbeeld
ONS TYE IN SY HAND
Ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand. Psalm 31:15-16
Soos ons klaarmaak met hierdie leesplan vandag wil ek jou herinner dat jou tye in God se hand is. Selfs die hare op jou kop is getel. Niemand kan jou uit die hand van jou Vader ruk nie (Johannes 10:19). En ek wil jou uitdaag om die beste tyd van jou dag vir die Here te gee. Lees sy Woord. Dink na oor wat God vir jou deur sy Woord sê. Bid tot God. Vra die Here om vir jou die krag te gee om nooit moed op te gee nie. Vra vir Jesus Christus om vir jou die moed te gee om deur die vure van die lewe te stap, sodat wanneer ongelowiges na jou kyk, hulle sal sê: “Daardie man Jesus moet regtig leef. Kyk net hoe verduur sy volgelinge hulle swaarkry.”
Kom ons neem ons oë vandag weg van onsself. Kom ons vestig ons oë op Jesus, en op ‘n sterwende wêreld. Kom ons vergeet van ons swaarkry, en help ander in nood. Kom ons gaan uit en maak ‘n verskil. Kom ons wees die sout van die aarde en die lig vir die wêreld. Kom ons wees anders vir die Here.
God belowe Hy sal ons nooit verlaat nie en ons nooit in die steek laat nie (Hebreërs 13:5). Hierdie belofte is genoeg vir ons. Want ons weet ons sal eerder in ‘n roeiboot deur ‘n woeste storm vaar met Jesus aan die stuur van ons boot as om op ‘n passasierskip in kalm water sonder die Here te wees. In sy teenwoordigheid is ons veilig.
Vader, dankie dat U my nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Dankie vir u belofte dat my lewe en tye in u hand is. Ek voel veilig by U. Amen
Hierdie 7-dag-leesplan is geneem uit AARTAPPELGELOOF VIR ELKE DAG deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Aangaande hierdie leesplan
As jy elke dag God se teenwoordigheid sterk wil ervaar, moet jy meer tyd by sy voete deurbring. Dit is in sy teenwoordigheid dat ons herstel en bemagtig word om ons roeping te vervul en om die goeie stryd van geloof te veg. Hierdie oordenkings is geneem uit AARTAPPELGELOOF VIR ELKE DAG deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.
More
Ons bedank Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za