My Tyd Met God Deur Joyce MeyerVoorbeeld
Goddelike geleenthede
Wanneer jou dag nie verloop soos jy beplan het nie, raak jy geïrriteerd omdat iets of iemand dit onderbreek het? Dit gebeur partykeer met my. Wat as ons hierdie veranderings in ons planne as Goddelike geleenthede beskou eerder as irriterende onderbrekings? Kan daardie versoek om ’n vriend te help ’n geleentheid wees om Christus te dien en meer goeie vrugte in ons lewe op te lewer? Kan ’n een of twee uur lange vertraging ons miskien uiteindelik in die regte posisie plaas vir ’n geleentheid wat ons sou misgeloop het as ons geweier het om ons planne te verander?
Daar is niks daarmee verkeerd om ’n plan te hê nie – om die waarheid te sê, ek dink dit is verstandig om te beplan – maar ons moet enige tyd gereed wees om ons planne te laat vaar en God te volg. Hy gee ons dikwels geleenthede om iemand te help of om Hom in ’n avontuur te volg wat seën in ons lewe teweeg sal bring. Ons kan egter maklik God se beter plan misloop as ons nie bereid is om “te laat los en God te laat lei” nie.
Daar is ook tye wanneer dit voel asof ’n onderbreking God se beskerming teen ’n onsigbare gevaar is wat ons sou teëkom as ons by ons oorspronklike plan gehou het. Kan swaar verkeer wat ons dag omvergooi ons miskien beskerm teen ’n ongeluk? Kan die vertraging by die lughawe ’n bedekte seën wees? Die antwoord op hierdie voorbeelde is ja. As ons God met sulke dinge vertrou en glo dat ons toekoms in sy hande is (sien Psalm 31:15), sal ons meer vrede ervaar en minder stres.
Gebed
Vader, help my om altyd u leiding te volg. Ek wil hê u wil moet in my lewe geskied. Ek wil altyd en enige tyd wat U my nodig het, beskikbaar wees. Help my om nooit ’n Goddelike geleentheid met U mis te loop nie! Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Oor die verloop van drie jaar het Joyce Meyer in haar joernaal die persoonlike oordenkings en inspirasie neergepen wat haar besige lewe aangevuur het. Daardie oordenkings vorm hierdie 5-dag-leesplan – elke dag sluit’n oordenking, ’n gebed en ’n Bybelvers in. Met elke dag bied Joyce ’n praktiese manier om tyd saam met God deur te bring, gebaseer op haar boek “My tyd met God”.
More
Ons wil graag Struik Christian Media en Joyce Meyer bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/my-tyd-met-god-hardeband