Die Minimalistiese HuisVoorbeeld
Ontvang Meer Terug As Wat Jy Gee
Minimalisme gaan nie daaroor dat iets van jou weggeneem word nie; dit behels eerder dat iets aan jou gegee word. My definisie van minimalisme is: "Die doelbewuste bevordering van dié dinge waaraan ons die meeste waarde heg en die verwydering van enigiets wat ons aandag daarvan aflei". Minimalisering is in werklikheid om te optimaliseer — die afskaling van jou besittings sodat jy dít wat jy die meeste in die lewe waardeer, kan koester en jou aandag nie enigsins van die uitlewing van God se doel met jou lewe afgelei word nie. Dit is individueel, bevrydend, en lewensverrykend.
Jy sal vind dat minimalisering in jou huis jou houding gaan beïnvloed ten opsigte van dié dinge waaraan jy vashou en dít wat jy weggee. Dit bevorder dankbaarheid en vrygewigheid. Beide eienskappe kan jou help om die persoon te word wat jy graag wil wees.
Dit is nie slegs wanneer jy nie meer te veel goed het nie, maar ook wanneer jy nie so baie goed wil hê nie, dat jy 'n vlak van tevredenheid beleef wat die persoon wat altyd die nuutste toestelle en uitvindings begeer en nóg huisraad wil indruk, nooit sal ervaar nie. As die besittings wat jy bymekaar gemaak het, tot bloot die noodsaaklike afgeskaal is, dan sien 'n mens dit nie alleen makliker raak nie, maar waardeer jy dit ook meer. Jy ervaar meer bevrediging en innerlike vrede. 'n Gevoel van dankbaarheid word beleef, en dit is 'n eienskap wat baie meer aantreklik is as wat gierigheid ooit sal wees. Dankbaarheid herinner ons ook daaraan dat ons só baie het om aan andere te gee.
Dit gee dan aanleiding tot vrygewigheid. Minimalisme lei tot 'n meer onbaatsugtige lewensstyl. Indien jy nie langer 'n lewe nastreef van kry, kry, kry nie, kan jy 'n lewe begin lei van gee, gee, gee. Jy word 'n vrygewige persoon — die soort wat hierdie uitgedroogde wêreld van ons natlei.
In die eerste plek beteken dit om van jou oortollige besittings weg te gee. Jy sal beleef watter groot vreugde dit jou verskaf om skenkings aan ander te maak. Ek vertrou dat jy sal ontdek dat vrygewigheid sy eie beloning meebring — dat dit jou sal laat hou van hoe jy voel wanneer jy gee.
Naderhand sal jy geleenthede soek om meer vrygewig te wees. Jy sal van jou ekstra geld gebruik om verdienstelike sake en bedienings te ondersteun waarby jy aanklank vind. Jy sal van jou vrye tyd vir dienslewering en vrywillige werk beskikbaar maak. In 2 Korintiërs 9:7 hoor ons dat God: "... die blymoedige gewer liefhet." Wat wonderlik van vrygewigheid is, is sodra jy begin om dinge weg te gee, jy nie anders kan as om in vreugde te groei nie.
Wanneer het jy die vreugde van vrygewigheid ervaar? Waarom dink jy ervaar ons soveel vreugde om geld en besittings vir ander te gee?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die skrywer Joshua Becker het iets moois sien gebeur wanneer mense hul oortollige besittings begin verminder — gedurende die proses, het die mense self verander. Alhoewel hierdie leesplan oor die vermindering van jou goed gaan, sal jy ook ontdek dat om minder te besit, vir jouself vernuwend kan wees. Met die afskaling van jou besittings sal jy verbaas wees oor hoe jou geloof, doelgerigtheid en gees van vrygewigheid oorvloediglik sal toeneem.
More