Die GeboortetoneelVoorbeeld
Die laaste groep wat in die geboortetoneel voorgestel word, is die wyse manne, of die sterrekykers. Hulle was heel waarskynlik nie-Joodse sterrekundiges wat die nag toe Jesus gebore is, die ster in die hemelruim gesien het. Hulle het geweet dat die gebeurtenis 'n groot verskil in die wêreld teweeg sou bring. Hulle het ver gereis om die bron van hierdie gebeurtenis te soek en het waarskynlik die nuus van Jesus se geboorte gehoor. Hulle het dus na koning Herodes toe gegaan, want hulle wou die nuwe koning ontmoet om eer aan Hom te bring en Hom te aanbid.
Herodes, die regerende Romeinse koning van Israel, was nie gelukkig oor hierdie bedreiging vir sy heerskappy nie. Dit is die verskil tussen Herodes en die wyse manne: Herodes het 'n bedreiging gesien, maar die wyse manne het hoop gesien. Herodes het Jesus nie as 'n Redder gesien nie, maar iemand wat sy beheer oor Israel en sy eie besluitneming bedreig het. Herodes was gewoond daaraan om bevele te gee en reëls te maak. Hy wou nie aan God se Seun gehoorsaam wees nie. Alhoewel die wyse manne nie grootgeword het om God te aanbid nie, het hulle geweet dat Jesus se geboorte iets kragtigs en wonderliks voorgestel het. Hulle het hoop gesien en groot vreugde ervaar toe hulle die goeie nuus oor Jesus gehoor het.
In ons lewens word ons voor dieselfde keuse gestel. Wanneer ons van Jesus te hore kom en die Evangelie verstaan, word Hy ons Redder en ons koning. Dit beteken dat ons die besluitneming en beheer oor ons eie lewens prysgee. Ons lewe nou met die fokus op die Koning, en nie op onsself nie. Die vraag is nou: is jy soos Herodes? Sien jy Jesus as 'n bedreiging? Is jy soos die wyse manne wat Jesus as 'n hoop vir hulle lewens gesien het?
Vrae om oor te dink:
Hoekom dink jy was die wyse manne bereid om so ver te reis om Jesus te vind?
Watter areas in jou lewe wil jy nog self beheer en nie aan Jesus oorhandig nie?
Sien jy Jesus as 'n bedreiging, of as 'n hoop vir jou lewe?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Een van die vele Kersfeestradisies vir gesinne, is om 'n toneel op te stel wat die geboorte van Jesus uitbeeld. Gewoonlik is dit Maria, Josef, skaapwagters, skape en wyse manne rondom 'n babatjie in 'n krip. Dis 'n pragtige toneel om ons aan Jesus se geboorte te herinner. Ons kan egter die menslikheid van elkeen van die persone wat daardie nag teenwoordig was vergeet, omdat die toneel so oorbekend is.
More