Die GeboortetoneelVoorbeeld
Dis moeilik om die geboortetoneel voor te stel sonder een van die belangrikste persone daar, naamlik Maria, die moeder van Jesus. Hierdie wonderlike tienermeisie was die instrument wat God gebruik het om sy Seun na 'n gebroke wêreld toe te stuur, sodat Hy redding kon bring deur aan 'n kruis te sterf.
God se plan was definitief nie Maria se plan nie. Sy het waarskynlik haar lewe anders voorgestel die dag toe die engel Gabriël vir haar die nuus gebring het dat sy 'n baba gaan hê. Haar plan was om met haar verloofde, Josef, te trou en 'n gesin saam met hom te begin. Hoe kon sy in elk geval 'n baba kry, aangesien sy nog 'n maagd was?
Dit het nie moontlik vir haar gelyk om 'n baba te hê nie, maar Gabriël het verduidelik dat God die onmoontlike moontlik sou maak, dat sy swanger sou raak deur middel van die Heilige Gees en dat die baba die Seun van God sou wees!
Maria het haar eie planne in die lig van God se planne vir haar lewe oorweeg. Sy het vir die engel gesê: "Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het ..." (Lukas 1:38). Dis ongelooflik, is dit nie?
Maria was bereid om haar planne en begeertes prys te gee om God se roeping vir haar lewe te volg. Sy het vertrou dat God se planne beter was as dié wat sy vir haarself gehad het, al het dit beteken dat sy skande moes verduur as 'n ongetroude moeder en dat Josef haar nie sou glo nie.
Ons moet dit ook in ons eie lewens onthou. Ons het planne en idees vir ons lewens, maar ons moet nooit vergeet dat God by magte is om veel meer te doen as wat ons ooit kan dink.
Vrae om oor te dink:
Hoe dink jy het Maria gevoel toe die engel aan haar verskyn het?
Watter planne het God vir jou wat nie met jou planne ooreenstem nie?
Bid dat God jou Maria se geloof sal gee om te vertrou dat God by magte is om meer te doen as wat jy kan dink.
Aangaande hierdie leesplan
Een van die vele Kersfeestradisies vir gesinne, is om 'n toneel op te stel wat die geboorte van Jesus uitbeeld. Gewoonlik is dit Maria, Josef, skaapwagters, skape en wyse manne rondom 'n babatjie in 'n krip. Dis 'n pragtige toneel om ons aan Jesus se geboorte te herinner. Ons kan egter die menslikheid van elkeen van die persone wat daardie nag teenwoordig was vergeet, omdat die toneel so oorbekend is.
More