Bekend — 'n Vyfdag leesplan deur Tauren WellsVoorbeeld
BEKEND | Dag 5 | GENIALITEIT VAN DIE EN
Johannes skryf Jesus het "onder ons kom woon ... [in] die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid" (Johannes 1:14b).
Ek is seker daarvan dat ek die lesers van hierdie oordenking in twee groepe kan verdeel: "genade mense" en "waarheid mense". Daar is sommige mense wat 'n wêreldbeskouing verkies — hul siening van God, die Bybel, hul geloof en ander mense — deur die lens van God se genade; en ander wat verkies om alle dinge deur die lens van waarheid te sien — God se waarheid, wat die lig op ons eie sondigheid werp. Wanneer ons egter te veel op enige van hierdie sieninge steun, deur een bó die ander te prioritiseer, word ons met 'n verwronge beeld van die werklikheid gelaat. Indien ons slegs op een staatmaak — genade OF waarheid — sonder die ander, is ons enersyds op 'n dwaalspoor. Andersyds ontken ons dat Jesus — in werklikheid vol genade EN waarheid is.
Jim Collins, skrywer van "Good to Great", het die term "Genialiteit van die EN" bekend gemaak. Alhoewel hy dit in die sin van sake gebruik het, kan dit in 'n wyer sin gesien word dat Jesus die oorspronklike skepper en beliggaming van hierdie beginsel is. Ek het agtergekom dat ons as gelowiges dikwels die tweeledigheid van "een of die ander" verkies en worstel met die spanning wat in "beide/en" is. Ons voel meer aangetrokke tot die "een of die ander" Skrifgedeeltes omdat ons (veral die "waarheid mense") daarvan hou dat daar duidelike grense tussen twee kategorieë is. Jesus kom egter om kategorieë uit te daag. Jesus is dus die verpersoonliking van "Genialiteit van die EN".
In Jesus se liggaam is die algehele volheid van die Godheid. Dit beteken dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees in Hom woon. Teoloë en ons gewone mense, worstel reeds vir eeue met die spanning wat waarheid inhou — en ons worstel eweneens met die spanning wat tussen waarheid en genade bestaan. Jesus was beide 100% vol genade asook 100% vol waarheid. Alles hang daarvan af! 'n Evangelie sonder die waarheid van menslike sondigheid is sonder krag, want waarvan moet jy verlos word sonder om bloot te lê tot watter mate ons die doel mis? Net so is 'n evangelie sonder die krag van genade betekenisloos, want hoe kan ons van die waarheid van ons sondigheid verlos word sonder genade om ons vry te maak? Ons kan dus nie op waarheid klem lê en slegs ligtelik met genade omgaan nie, of genade beklemtoon en teenoor waarheid onverskillig staan nie. Met net een van hierdie opsies word ons sonder die volheid van Jesus gelaat. By God gaan dit oor die naakte waarheid — waarheid wat presies blootlê wie ons werklik is — en sy onbegryplike genade — genade wat ons ontmoet net daar waar ons is.
Een van my gunsteling beskrywings van hierdie genade/waarheid-eenheid kom in die gedeelte voor waar Jesus die vrou by die put ontmoet. Juis omdat Jesus so vol genade was, het Hy nie gehuiwer om vele gebruike van die tyd te verbreek om haar te bereik nie. Sy was 'n vrou en van 'n ander etnisiteit. Jesus nader haar in hierdie Samaritaanse dorp waar Hy nie hoort nie; dus het sy dissipels nie verstaan wat aangaan nie en kon slegs in diepgaande verwarring toekyk. Jesus het ook die vermetelheid gehad om die vrou reguit oor haar sondige verlede aan te spreek. Na dié harde waarheid, openbaar Hy Homself as die Messias, die Een wat alle sondes wegneem. So betoon Hy genade aan haar. Dan vertel die vrou aan die hele dorp wat gebeur het sodat baie mense gelowiges word. Haar getuienis was: "Hy het my alles vertel wat ek al gedoen het." Met ander woorde: "Hy het my geken." Hy het die waarheid oor haar geken, maar haar nie verwerp, veroordeel of verdoem nie. Inteendeel, Hy bewys die Verlosser se liefde aan haar.
Ek wil meer soos Jesus wees, die vermoë hê om die waarheid oor mense se lewens te hoor en God se genade aan hulle te bewys. Ek wil ook beter insig hê oor die waarheid van my eie tekortkominge en glo dat die genade van God tot volle werking kom wanneer ek swak is. Hy ken ons immers en het ons nogtans lief. O, die wonder van genade en waarheid!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
My nuwe lied getiteld "Known," is baie betekenisvol vir my geloofsreis. My begeerte is dat ons almal eendag gewillig sal wees om te stap van hopeloosheid na hoop, van seer na genesing en van worsteling na oorgawe — dat ons om ons en na die voet van die kruis sal kyk, mekaar sal sien en hoor hoe Jesus ons vertel dat ons nie alleen is nie. Dankie dat jy my op hierdie reis vergesel. -Tauren Wells
More