Bekend — 'n Vyfdag leesplan deur Tauren WellsVoorbeeld
BEKEND | Dag 3 | DIE UITNODIGING
My skoonpa het eenkeer in sy boodskap gedurende sy prediking iets gesê waarvan ek baie hou. Hy het verwys na Lukas 12:7 waar ons lees: "Selfs die hare op julle kop is almal getel ..." Hy wys ons toe daarop dat God nie net weet hoeveel hare op ons koppe is nie, maar Hy het selfs so ver gegaan om elkeen te nommer! Hy weet haar #674, #223 en #62 is vanoggend uitgekam. Hy weet #112, #332, #27, #96 en #705 is almal effens gryser as vantevore. Ek het nog nooit voorheen so daaraan gedink nie en aanvanklik het dit eers humoristies geklink. Toe tref die volle impak en werklikheid van die betekenis van hierdie vers my. God sien, ondersoek en hou tred met elke … enkele … besonderheid … oor sy kinders. Nie 'n sproet, litteken, seer, oomblik of besonderheid oor ons lewens word ooit misgekyk nie. As ek oor hierdie diepgaande waarheid nadink, eggo my hart dié van Dawid toe hy besef het die oë van die Meester is op hom en hy gevra het: "wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? (Psalm 8:5). Verstommend. Kan jy dit hoegenaamd begryp?
'n Ander belangrike waarheid vind ons in 'n soortgelyke gedagtegang. Ek het onlangs die boek, The Emotionally Healthy Leader van Peter Scazzero gelees, en daarin sonder hy ook iets uit wat my opgeval het. Hy stel dit dat alhoewel God volle toegang tot alle inligting oor ons het, beteken dit nie dat Hy volle toegang tot óns het nie. Toegang tot inligting en 'n uitnodiging tot intimiteit is twee verskillende dinge.
Dawid verwys in Psalm 139 daarna. Trouens, hy gebruik 21 verse — van vers 1 tot 22 — om te verduidelik hóé intiem God ons werklik ken. Jy kan die gedeelte so opsom: "Here U het alle inligting oor my! Daar is niks wat U nie weet nie!" Dan roep Dawid in vers 23 uit: "Deurgrond my, o God!" Mag dit ons gebed ook wees. "Here, ons wil nie hê U moet net die besonderhede ken nie; ons nooi U daarin."
Ek dink ons sielevyand wil graag hê ons moet tevrede wees om net 'n inligtingsgebaseerde verhouding met God te hê. So 'n soort verhouding gee ons 'n valse sin van wat dit beteken om God te ken en om deur Hom geken te word. Dink oor Adam en Eva. Ek dink toe die Satan hulle met die verbode vrugte versoek het, hy geweet het wat hul reaksie op mislukking sou wees. Hy het geweet, die oomblik wat hulle besef waaraan hulle blootgestel is, hulle sou wegkruip. Sedertdien het die mensdom se reaksie op mislukking nog nie verander nie. Ons kruip steeds weg en die afstand wat ons tussen onsself en God probeer plaas, is presies wat die Satan wil hê. Dis wat hy nog altyd wou hê.
Ons dink om onsself te bedek en van God se teenwoordigheid af te sonder, is veiliger as om onsself te openbaar en God se teenwoordigheid in ons worsteling in te nooi. Wat was God se reaksie op Adam en Eva? Hy het nie gevra wat hulle gedoen het nie. Hy het reeds geweet. Hy het hulle gevra waar hulle is. Hy wou weet of hulle Hom in hul mislukking sou innooi. Gedurende tye van seerkry, eensaamheid of mislukking, is ons geneig om van Christus weg te kruip, maar — luister hier, vriende — te danke aan sy offer vir ons sonde, kan ons nou in Christus wegkruip. Dis soos Paulus in Romeine 8:1 gesê het: "Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie."
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
My nuwe lied getiteld "Known," is baie betekenisvol vir my geloofsreis. My begeerte is dat ons almal eendag gewillig sal wees om te stap van hopeloosheid na hoop, van seer na genesing en van worsteling na oorgawe — dat ons om ons en na die voet van die kruis sal kyk, mekaar sal sien en hoor hoe Jesus ons vertel dat ons nie alleen is nie. Dankie dat jy my op hierdie reis vergesel. -Tauren Wells
More